Namibië se grootste hoenderprodusent sê hy het tot nou toe die skerp stygings in insette soos geelmielies en sojabone self geabsorbeer, maar die bykomende impak van die oorlog in die Oekraïne op die pryse van dié produkte noodsaak hom om die prys van hoender te verhoog.

Namib Mills het gister in ’n brief aan handelaars en ander kopers gesê die prys van Namib Poultry Industries (NPI) se hoenderprodukte styg vanaf 25 April met 3%.

“Die koste van graankommoditeite het aansienlik toegeneem oor die afgelope 12 maande, spesifiek geelmielies en sojabone. Die koste van sojabone het met 39% gestyg, waarvan 35% in die afgelope drie maande was.

“Geelmielies se prys het oor dieselfde tydperk met 38% toegeneem, waarvan 18% in die afgelope drie maande was,” sê Namib Mills.

Hy sê die voortslepende konflik tussen Oekraïne en Rusland plaas verdere druk op die stygende voedsel- en energiekoste.

Die koste van papier- en plastiekverpakkingsmateriaal het ook gestyg en beïnvloed die produksiekoste.

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het op 11 Maart gewaarsku internasionale voedselpryse kan met 20% styg as gevolg van die oorlog in Oekraïne en die impak daarvan op duurder brandstof en moontlike tekorte aan graangewasse, sonneblom-kookolie asook die grondstowwe van kunsmis en veevoere.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.