Die nuwe uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, dié keer ver verwyder van die gebiede waar dit endemies is, behoort nie ’n noemenswaardige impak op die rooivleismark in Namibië te hê nie al word dit daar as “’n genadelose slag” beskryf.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in Suid-Afrika het Dinsdag aangekondig bek-en-klouseer is op twee plase in die Noordwes-provinsie ontdek, waarvan een ’n kommersiële stoetveeplaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp is.

Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad van Namibië, sê daar geld in elk geval ’n verbod op die invoer van bees- en skaapvleis uit Suid-Afrika vanweë vroeëre uitbrekings in Limpopo en KwaZulu-Natal.

Hy sê die invoer van varkvleis is toelaatbaar mits die vleis van sekere goedgekeurde gebiede afkomstig is.

“Wie die swaarste getref word deur die verbod op invoere, is stoettelers wat nie stoetdiere kan invoer nie. Ook handelaars wat goedkoper vleis uit Suid-Afrika ingevoer het, word geraak,” sê Strydom.

Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), sê die gebeure in die buurland kan tot ’n geringe verbetering in die prys van speenkalwers by plaaslike veilings lei, aangesien Suid-Afrikaanse voerkrale soos Karan Beef reeds aangedui het hulle sal sterker op die Namibiese en Bo­tswana-mark moet steun.

Intussen het mnr. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Suid-Afrika, gesê die nuwe uitbreking kan ’n drastiese impak op die ­lewendehawebedryf hê indien dit nie reg hanteer word nie.

“Die tyd het aangebreek dat boere in Suid-Afrika naspeurbaarheid- en/of bestuurstelsels implementeer om risiko’s te verlaag,” sê Faber.

Namibië word internasionaal geloof vir sy naspeurbaarheidstelsel, bekend as die FanMEAT-skema.

Dit is danksy hierdie skema en Namibië se goeie dieregesondheidsbeheer dat hy beesvleis na voorkeur- internasionale markte kan uitvoer.

“Die rooivleisbedryf word gesien as die slapende reus in Suid-Afrikaanse landbou en die enkele aspek wat dit kan verhoed, is ’n gebrek aan beheer van dieresiektes, en spesifiek bek-en-klouseer. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.” sê Faber.

Suid-Afrika het in 2020 sy status as ’n land vry van bek-en-klouseer by die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) verloor. Dit was ná die uitbreking van dié gevreesde dieresiekte in 2019 in Limpopo, gevolg deur die een in KwaZulu-Natal kort daarna.

In Namibië geniet boerderygebiede suid van die veterinêre kordonheining, of rooilyn, bek-en-klouseer vrye status.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.