Die totale bemarking van beeste het in 2021 met 9,9% gedaal, hoofsaaklik as gevolg van ‘n vermindering van op-die-hoef-uitvoere van beeste.
Daarteenoor het die bemarking van skape met 5,2% toegeneem, terwyl dié van bokke met ‘n stewige 27,6% geklim het.
Volgens ‘n verslag deur die Namibië Landbou-unie (NLU) wat na afloop van die vierde kwartaal van 2021 uitgereik is, was die lae bemarkingsyfer egter te wagte, juis omdat Namibiese beesboere in 2021 die tweede jaar van ‘n kuddeherbouingsfase betree het.
Dit volg op die verwoestende droogte van 2019.
Die NLU se me. Bertha Ijambo sê Namibië het in 2021 altesaam 136 711 beeste lewend uitgevoer, teenoor die 158 679 in 2020. Dit verteenwoordig ‘n daling van 13,8%.
Die beesbedryf is Namibiese landbou se grootste landbousektor in terme van produksiewaarde en het in 2021 op bykans N$2,5 miljard gestaan.
Terselfdertyd het die lewering aan abattoirs, ofte wel die deurset, ‘n verbetering van 12% beleef, met uitvoerabattoirs wat 56 519 beeste in 2021 geslag het, teenoor 50 447 in 2020.
“B- en C-klas-abattoirs het egter 32 504 beeste in 2021 teenoor 2020 se 41 315 beeste geslag.
“Die opveil van beeste het ook met 24% gedaal, van 238 976 beeste in 2020 tot 181 661 in 2021. Die meerderheid beeste op veilings is gewoonlik speenkalwers. Hul getalle op veilings het ook van 162 852 in 2020 tot 125 426 in 2021 gedaal,” het Ijambo gesê.
KLEINVEE
Ijambo sê die deurset van bokke aan plaaslike abattoirs het met 2,1% gedaal, terwyl die uitvoere van lewende bokke met 30% gestyg het.
Sy verduidelik skaapabattoirs het gesluit, en dit is die rede waarom ‘n daling in die deurset aan abattoirs waargeneem is.
“Skaapuitvoerabattoirs het sowat 26 519 skape in 2020 geslag, maar in 2021 het dit tot ‘n geskatte 13 254 skape gedaal – ‘n afname van sowat 50%,” het sy gesê. B- en C-klas-abattoirs het ook ‘n afname van 21,5% beleef.
Die uitvoere van lewende skape het egter met 25,6% verbeter. Terselfdertyd is 26,4% minder skaap in 2021 op veilings verkoop.
Ijambo sê produsente gaan voort om in hul ondernemings te belê en produksie te verbeter. “Bemarkingsyfers was dus ietwat laag, maar dit sal na verwagting in 2022 optel, wanneer veeboere hul derde jaar van die kuddeherbouingsfase betree.
“Landbouskuld was N$7 140 miljard teen Junie 2021, wat op ‘n vermindering van 8,3% dui.
“Daar is ‘n bietjie optimisme in die sektor en met die regte institusionele ondersteuning en beleidsomgewing, sal dit ‘n groter bydrae tot die landelike ekonomie en die groter Namibiese ekonomie kan lewer,” het sy gesê.
[Bron – Republikein]