Insetkoste vir landbou het in 2021 die grootste verhogings sedert 2016 gesien.

Die verhoging is grootliks toe te skryf aan brandstof onkoste (30,5%), voerkoste (17,3%) asook onderhoudswerk en verbeteringe (11,6%).

Boonop het die Namibiese dollar verder teenoor buitelandse geldeenhede verswak, wat invoerpryse verder verhoog het.

Volgens ‘n verslag deur die Namibië Landbou-unie (NLU) wat na afloop van die vierde kwartaal van 2021 uitgereik is, het die NLU se produksiekoste indeks op 125,7 basispunte in die vierde kwartaal van 2021 te staan gekom. In die vierde kwartaal van 2020 het dit op 113,4 basispunte gestaan.

“Dit beteken landbou-inflasie het van 3,1% (jaar-op-jaar) in die vierde kwartaal van 2020 na 10,8% gespring in die vierde kwartaal van 2021,” het die NLU se me. Bertha Ijambo gesê.

VOERKOSTE

Stygings in voerkoste het die landboubedryf in 2021 aan die korthare beetgehad.

Die prys van ureum en monokalsiumfosfaat (P21) het plaaslik met onderskeidelik 123% en 64,1% tussen 2020 en 2021 toegeneem.

“Waar ureum in 2020 nog teen N$6,80 per kg verkoop is, het die prys verlede jaar tot N$15,20 per kg verstyg, terwyl die P21-prys van N$10,10 per kg tot N$16,60 per kg oor dieselfde tydperk toegeneem het,” het Ijambo gesê.

Dieselfde tendense is in Suid-Afrika asook op internasionale markte gesien. In Suid-Afrika het die prys vir ureum en mono-ammoniumfosfaat (MAP) met onderskeidelik 55,8% en 53,7% gestyg.

Op internasionale markte het die prys vir ureum en diammoniumfosfaat (DAP) met onderskeidelik meer as 90,8% en 77,1% gestyg, dui die NLU se verslag aan.

“Namibië is ‘n netto-invoerder van voer. Dit beteken drastiese veranderinge in die bestanddele van voer het ‘n groot impak op die produksiekoste daarvan asook voerkoste oor die algemeen,” het sy verduidelik.

“In Namibië het die prys vir geelmielies met 13,5% gestyg vanaf N$4,10 per kg in 2020 tot N$4,60 kg in 2021. Dit, tesame met stygings in die brandstofprys asook ander faktore het landbou-inflasie laat toeneem,” sê Ijambo.

Sy sê as dit by geelmielies en sojabone kom, het die Suid-Afrikaanse prys met onderskeidelik 17,2% en 9,4% gegroei.

OPBRENGSTE

Volgens Ijambo het produsente pryse in 2021 egter ook goed gevaar.

“Vir die tweede opeenvolgende jaar het produsentepryse goed gevaar, hoofsaaklik as gevolg van min diere wat op markte beskikbaar is omdat boere nog hul kuddes herbou.

Volgens die verslag het die produsenteprys vir skape met 4,1% jaar-op-jaar in 2021 verhoog, terwyl beespryse met meer as 12,3% op ‘n jaar-tot-jaar basis verhoog het.

“Die positiewe ontwikkeling in terme van die prys van beeste was ook te sien in die slagbedryf waar ‘n 26% jaar-op-jaar verhoging te sien was. Die prys van speenkalwers het met 3,3% gegroei.

Die gemiddelde speenkalfprys, uitgedruk as ‘n persentasie van die slagprys, het tot 70% in die vierde kwartaal van 2021 gegroei, waar dit in die derde kwartaal nog op 68% gestaan het.

Dienooreenkomstig het die winsgewendheid van ‘n speenkalf- of osproduksiestelsel tans markewewig bereik omdat die speenkalfprys, as ‘n persensentasie van karkasgewig, tot naby langtermyngemiddeldes gedaal het, sê Ijambo.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.