’n Reuse simbra-os van Hardus Breedt het Agra-veilingrekords laat spat toe dit vir N$38,68 per kg op Grootfontein verkoop is.

Agra se mnr. Hendrik Prinsloo het bevestig dat ’n nuwe nasionale rekordprys vir ’n os op Agra se boeke is. Hy sê die os het 910 kg geweeg en is eindelik vir N$35 200 aan Namatubis Meat van Outjo verkoop.

Rumba Simbra se Breedts is baie trots op die os se prestasie by die afgelope Woensdag se veiling op Grootfontein, het Hardus Vrydag aan Republikein gesê.

Hy sê die os is bykans sewe jaar oud en hulle was eintlik hartseer om hom te laat gaan.

Hy sê dié os en sy makkers het nooit byvoeding gekry nie, maar is so groot op die veld uitgegroei, wat ’n besonderse prestasie is.

Breedt sê hy het aanvanklik beplan om die os langer terug te hou, maar omdat veilingpryse tans so goed is, het hy besluit om hom wel veiling toe te vat – wat geblyk het die regte keuse te wees.

Breedt sê die os was in ’n groep van 11, maar hy het die ander tien vir verslagting Meatco toe gestuur.

SPOGVEILING

Woensdag se veiling het altesaam 1 164 bees op aanbod gehad, asook twee perde.

Danksy baie goeie pryse wat vir vee betaal is, het die veiling ’n omset van meer as N$11 miljoen gelewer. Die gemiddelde prys vir beeste was N$34,63 per kg.

Altesaam 40 osse was op aanbod, waarvoor ’n gemiddelde prys van N$32,44/kg (N$18 300 per kop) betaal is. Die hoogste prys wat in dié groep betaal is, was N$38,68 en die osse se gemiddelde gewig was 564 kg.

Die grootste groep op die veiling was 558 tollies met ’n gemiddelde gewig van sowat 207 kg, wat vir gemiddeld N$39,17/kg verkoop is. Die hoogste prys van N$47,92/kg is ook vir tollies op die veiling betaal.

Hiernaas was 199 verse (gemiddelde gewig 208 kg) die tweede grootste groep, met ’n gemiddelde prys van N$37,92/kg en ’n hoogste prys van N$43,26/kg wat vir hulle betaal is.

Speenkalwers het ook vir ’n gemiddelde prys van N$32,67/kg verkoop, terwyl store (verse) vir gemiddeld N$32,42/kg verkoop het en hul manlike eweknieë vir N$34,25/kg.

’n Klompie koeie was ook op die veiling, wat vir ewe goeie pryse verkoop is. Koei-met-kalf-kombinasies is vir ’n gemiddelde prys van N$33,35/kg van die hand gesit, terwyl vet koeie teen ’n gemiddeld van N$30,69 verkoop het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.