“Reën sal na verwagting tot sowat die tweede deel van Maart oor die noordelike dele van Namibië voorkom, terwyl vooruitsigte vir die langer termyn, in die voor winterperiode, steeds baie positief is.

“Die impak van die La Niña-weerverskynsel sal steeds gemiddelde tot bogemiddelde reën [vir Namibië] dryf, sê die konsultant-landbouweerkundige, Johan van den Berg, in sy jongste weervooruitskouing. Die vooruitskouing is gister (28 Feb) uitgereik.

“Tropiese vog het nou vanaf Angola oor Namibië inbeweeg en ook aan die buitekant van die hoëdrukstelsel oor die grootste dele van Suid-Afrika, Botswana en selfs Zimbabwe,” het hy gesê.

TOEKOMSBLIK Van den Berg sê voorspellings van Enso-toestande in 2022-’23 se somer is nog onbeslis, maar tot dusver blyk dit daar bestaan sowat 45% kans op neutrale toestande, 35% op ’n La Niña-weerverskynsel en 20% kans op ’n El Niño-weerverskynsel.

“Ons sal teen Julie meer sekerheid hê oor wat ons in die komende somerseisoen kan verwag,” het hy gesê.

“Voorspellings dui egter op ’n groeiende moontlikheid van nog ’n La Niña-weerverskynsel, met ’n kwynende kans vir neutrale of El Niño-toestande.

“Daarteenoor was die kans op ’n La Niña- versus ’n El Niño-weerverskynsel nog in Januarie bykans ewe veel, terwyl die kans op neutrale weerstoestande toe nog op meer as 50% gestaan het,” het hy gesê.

’n La Niña-weerverskynsel word meestal met natter-as-gewoonlik toestande oor Suider-Afrika vereenselwig.

NÓÚ La Niña-toestande sal ten minste tot die vroeë winter voortduur, voor dit dan na verwagting tot neutrale toestande sal terugkeer.

Van den Berg sê seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede het sy piek teen die einde van Januarie bereik, wat beteken die La Niña-weerverskynsel is besig om te verswak.

“Temperature in die meeste Niño-gebiede raak effens warmer en die belangrike Niño-3- en -4-gebiede was sowat 0,6 °C koeler as normaal in die laaste week van Februarie. Dit in vergelyking met die piek in Januarie, toe dit sowat 1,1 °C koeler as normaal is. Water net onder die seeoppervlak word ook effens warmer,” het hy gesê.

“Die El Niño- Suidelike Ossillasieklimaatspatroon (Enso) is gewoonlik neutraal tussen April en Junie, met nuwe verwikkelinge wat voor die begin van die somer in die Suidelike Halfrond voorkom,” verduidelik hy.

ANDER MAATSTAWWE “Die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), as ’n maatstaf van die verhouding tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels, handhaaf tans ’n sterker La Niña-neiging as in Januarie.

“Op ’n skaal van -30 (wat op ’n sterk El Niño sou dui) en 30 (wat op ’n sterk La Niña sou dui), is die gemiddeld vir die maand sowat 9,9, terwyl dit in Januarie net sowat 1,5 was,” sê Van den Berg.

Nog goeie nuus is dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) steeds neutraal bly en behoort volgens voorspellings tot in April dié toestand te handhaaf. Daarna sal dit waarskynlik wéér ’n negatiewe fase betree, wat goed is vir somerreën oor Suider-Afrika.

Dít omdat water in die westelike Indiese Oseaan tot teenaan die Afrika-kus koeler sal wees, soos in 2021.

Van den Berg merk ook op dat daar tot dusver vyf relatiewe sterk tropiese stelsels sedert die laaste week van Januarie ontwikkel het, wat ernstige skade in Madagaskar, Mosambiek en Malawi veroorsaak het.

“Sikloon Batsirai was die mees intense een met ’n windspoed van meer as 200 km per uur. Dit het erstige skade in Madagaskar veroorsaak waar dit met meer as 250 mm reën geassosieer is.”

[Bron Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.