Die seunskoshuis van die Hoërskool Epako op Gobabis se dak is Sondag deur stormsterkte winde afgewaai en 120 seuns benodig nou alternatiewe akkommodasie. Volgens mnr. Ndjengua Ngavekotoke, die koshuis se superintendent, het ’n stormsterkte wind omstreeks 15:00 gewaai en die dak van die seunskoshuis opgelig.

“Die hele dak aan die een kant is opgelig en weggewaai. Dit is etlike meter ver weg gewaai en het op die dak van die wooneenheid van die koshuis se hoofmatrone beland. Die dak van haar behuising is ook beskadig,” het hy gesê.

Die kinders was in die eetsaal besig om huiswerk te doen.

“Gelukkig is nie een van die kinders beseer nie. Die matrone was wel in haar sitkamer, maar hulle het ook niks oorgekom nie. Dit het onmiddellik ná die storm hard begin reën en die koshuis en matrone se huis is oorstroom.”

Die reën het groot skade aangerig en die 120 seuns moes die koshuis ontruim en skuiling vir die nag in die eetsaal soek. “Die plafon het natgeraak en gebreek. Die elektrisiteit, ligte en alles wat krag verwant is, is deur die water geraak. Die kinders se klere, komberse, matrasse en boeke was nat.”

Ouers is gister in kennis gestel dat hulle alternatiewe slaapplek vir hul seuns moet vind totdat die dak herstel is. “Ons sal kos kan voorsien, maar ons kan hulle vir tyd en wyl nie akkommodeer nie. Ons het ’n klein saal waar ons minder as 20 kinders – wat van baie ver kom – kan akkommodeer, maar dit is al,” het Ngavekotoke gesê.

Die koshuis is in 1982 gebou en dis die eerste keer dat só iets gebeur. “Die koshuis is baie oud. Ons streekbestuurder en die ministerie van werke was gister hier om die skade te bepaal en planne te maak om dit te herstel, maar dit kan nog lank neem voordat alles herstel en terug na normaal is.”

REëN Op die plaas Frauenhofen 50 kilometer oos van Gobabis op die pad na Buitepos, het dit Sondag namiddag 100 mm op een slag gereën. Volgens Willie de Jager het die reën in ’n smal strook geval en het sy oom wat op die plaas langsaan boer geen reën ontvang nie.

“My pa boer ook naby en hy het die plaaswerker gebel om te hoor hoeveel dit gereën het en sy antwoord was: ‘Meneer, die reënmeter loop oor en die reën het ook klippe (hael) gegooi’.”

“By die huis wat sowat vyf kilometer daarvandaan geleë is, het dit slegs 35 mm gereën. Dit reën net kol-kol. Vir die seisoen het ons tot dusver so 200 mm gehad waar ons gewoonlik teen die tyd al 400 mm ontvang het.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.