Altesaam 42 216 mense in die staatsdiens het ten gunste van ‘n staking gestem in ’n poging om druk op die regering uit te oefen nadat staatsamptenare meer as 7 jaar gelede laas ’n verhoging gekry het.

Lede van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) en die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu) het Donderdag en Vrydag gestem oor of ’n nasionale staking moet plaasvind of nie.

Die meerderheid van hul lede het ten gunste van die staking gestem.

’n Totaal van 2 254 staatsamptenare in die Zambezistreek het ten gunste van die staking gestem, 1 531 in die Hardapstreek, 2 076 in die Kavango-Wes-en 3 175 in die Kavango-Oos-streek, 2 522 in die Oshikotostreek, 4 648 in die Omusatistreek, 3 106 in die Oshanastreek, 2 572 in die Erongostreek, 3 141 Otjozondjupastreek, 4 543 in die Ohangwenastreek, 1 805 in die Kunenestreek, 2 517 in die Oshikotostreek, 3 106 in die Oshanastreek, 6 251 in die Khomas-streek en 1 668 in die ||Kharasstreek.

Dit blyk uit die stemresultate wat by die verskillende stempunte aangebring is.

Die finale telling deur Nantu en Napwu toon dat slegs 1 232 staatsdienswerkers het téén die staking gestem. Altesame 216 bedrowe stemme is uitgebring.

Die sekretaris van die kabinet, mnr. George Simataa, het uitvoerende direkteurs binne die regering versoek om te verseker dat die staking nie dienslewering in die staatsdiens sal beïnvloed nie.

“Ons verwag dat alle personeellede onder bestuursvlak aan die staking sal deelneem aangesien dit ’n brood-en-botter-kwessie is. Ons taak is om te verseker dat dienslewering nie gedurende hierdie tydperk in die slag bly nie

“Daarom word alle uitvoerende Direkteurs (ED’s) versoek om afgesien van die noodsaaklike dienste wat in die Arbeidswet aangedui word, ander belangrike noodsaaklike dienste in hul onderskeie kantore, ministeries en agentskappe te identifiseer,” het Simaata versoek.

Me. Loide Kasingo, Swapo se sekretaris vir arbeid, het die naweek gesê sy het simpatie met werknemers in die staatsdiens, maar bygevoeg daar is nie geld om aan staatsamptenare ‘n salarisverhoging toe te staan nie.

“Ons beleef ‘n krisis, daar is nie geld nie. . . Die regering het nie geld nie. Hy weier nie doelbewus (verhogings) nie,” het sy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.