Fosfaat- en proteïenlekaanvulling maak deel uit van sukses­volle rooivleispro­duksie in Namibië. Fosfaataanvulling in die vorm van Fut­ter­fos P6 is baie goedkoop en diere kry dit meestal net in vier maande op groen weiding. Die produsent moet dus alles in sy vermoë doen om sy diere maksimum toegang tot fosfaat te gee. Verwyder klipsout by beide skaap- en beestroppe om optimale fosfaatinnames te verseker. Feedmaster se proteïenlek­reeks bevat derhalwe deurgaans hoër vlakke fosfaat om die weiding se lae vlakke en diere se fosfaatbehoeftes aan te vul.

Hoeveel Futterfos P6 moet in lekbakke gegooi word?

Die produk is ’n fosfaat-mineraalaanvulling met ’n hoë soutinhoud. Daarom is die produk se innames relatief laag. Kamp- en tropgroottes, tipe lekbakke en hoe gereeld poste en waters kontroleer word, is bepalend. Riglyne is:

Grootvee: Teen 150 tot 200 g/koei/dag behoort 50 koeie slegs 70 kg P6 in sewe sewe dae te vreet. Besluit of die volle hoeveelheid eenmalig uitgesit word en of dit in twee porsies vir die week opgedeel word vir byvoorbeeld Maandae en Vrydae.

Kleinvee: Teen 15 -20 g/ooi/dag behoort 250 ooie slegs 35 kg P6 in sewe dae te vreet.

Verdeel die lek tussen twee tot vier lek­bakke, afhangende van die tropgrootte.

Hoe gereeld moet lekbakke aangevul word?

Omrede dit hoofsaaklik ’n fosfaat-mineraalaanvulling is, kan diere ’n paar dae sonder fosfaatlek wees indien dit gereeld reën. Die feit is egter dat diere verkieslik daagliks toegang moet hê tot P6, veral koeie met kalwers en lammerooie.

Wat moet ek doen indien die produk in lekbakke natgereën het?

Fosfaatprodukte bevat geen ureum nie, dus is daar geen gevaar van vergiftiging nie. Na ge­lang van hoe nat die produk is, kan dit in die bak deurgemeng word of uitgegooi word om droog te word en met die vars produk gemeng word. Indien die produk baie nat is en in bakke gelos word, sal dit kliphard raak en innames uiters laag wees. Daarom is dit belangrik om dit gereeld los te maak en deur te meng.

Wat maak ek in kampe met oop water?

Maak seker daar is ’n lekbak by die pos sowel as by water in die veld. Diere kom gewoonlik by panne bymekaar. Lekbakke kan hier uitgesit word om fosfaatinname te verseker.

Wat is die oplossings vir die meeste van bogenoemde probleme in die reënseisoen ?

Toeklapbakke vir bees maak dit moontlik om groter hoeveelhede Futterfos P6 per trop uit te gooi. Dieselfde lekbak word vir proteïenlek gebruik. Die bakke skakel baie vermor­sing en verliese weens wind, duiwe en tarentale uit. Toeklapbakke is egter ’n nice to have, maar nie ’n voorskrif nie.

[Bron: http://www.agriforum.com.na/wenke-vir-die-bestuur-van-fosfaataanvulling-in-die-reenseisoen/]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.