Nog ‘n stok is in die wiel van studente verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam) se finale eksamens gesteek nadat vraestelle vir onderwysstudente na bewering uitgelek het. Verwarring het reeds vroeër geheers met finale eksamenroosters wat aanvanklik laat uitgereik, teruggetrek en toe dae later weer uitgereik is.

‘n Ondersoek moet nou bepaal of vraestelle wat reeds geskryf is, nietig verklaar gaan word. Die impak wat die herskryf van die geraakte modules sal hê op aanvullende eksamens wat op 29 November begin, moet ook bepaal word.

Mnr. Shahid Shu’aib Dickson, Unam se assistentdirekteur vir korporatiewe onderhandelinge en internasionale betrekkinge, het Vrydag bevestig sommige modules in die skool vir onderwys het uitgelek.

Volgens hom het ‘n ondersoek reeds in “alle erns” begin om die omvang te probeer bepaal, maar is dit meestal net studente in die betrokke departement wat geraak word.

Dickson sê die geraakte modules sal nou geskryf word op datums wat aan die betrokke studente gekommunikeer sal word.

“Die huidige eksamenrooster bly soos dit is. Die onderwysstudente gaan soos met die rooster vanaf Woensdag (16 November) voort met die eksamen,” het hy gesê.

Dickson het beklemtoon die universiteit handhaaf en dwing die hoogste standaard en integriteit ten opsigte van sy eksamens af, wat die huidige maatreëls genoodsaak het.

Volgens hom is maatreëls soos verhoogde sekuriteit in plek om die integriteit van die res van die eksamen te verseker.

Die modules wat deur die uitlek van vraestelle geraak is, naamlik dié van Vrydag (11 November), Maandag 14 November en Dinsdag 15 November sal nou op ‘n latere datum geskryf moet word. Dié datums is egter nog nie bekend nie, maar volgens Dickson sal dit egter steeds vanjaar nog wees.

Hy het erken dit mag implikasies inhou vir studente wat die aanvullende eksamens, wat op 29 November begin, moet skryf. Laasgenoemde sluit studente in wie, met die verwarring met die aanvanklike eksamenrooster, by eksamenlokale opgedaag het, net om te hoor dié rooster is weer met ‘n nuwe een vervang.

“Die universiteit se bestuur doen alles in hul vermoë en in die beste belang van studente om die impak van die uitlek van vraestelle te beperk.”

Dickson het beklemtoon die universiteit verduur nie enige optrede deur studente of personeel wat die integriteit en kredietwaardigheid van eksamens in gedrang bring nie.

Enige persoon, hetsy student of personeellid wat hierby betrek word, sal in ooreenstemming met die dissiplinêre prosedures, regulasies en etiese kode van die universiteit gestraf word. “Die universiteit loof die personeel en studente wat ‘n hoë etiese kode en integriteit handhaaf. Ons moedig hulle aan om die kantoor van die registrateur in te lig oor enige onetiese optrede.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.