Sou padvervoerders by dooiemansdeur op Suid-Afrikaanse grensposte beland weens ’n landswye staking van lede van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) wat vandag begin, sal dit ’n ernstige impak op Namibië se ekonomie hê.

Teen druktyd gister sou sowat 235 000 VSA-lede aan dié staking deelneem uit protes teen die Suid-Afrikaanse regering se eensydige instelling van wat hulle ’n onaanvaarbare salarisaanbod beskou.

Die VSA verteenwoordig sowat 18% van alle staatslui in die buurland, met die staking wat veral dienste by die departemente van binnelandse sake, vervoer en arbeid sal ontwrig.

Die VSA het gewaarsku die beweging van inkomende en uitgaande reisigers deur grensposte en lughawens sal ontwrig word weens grensbeheerbeamptes wat nie op hul pos sal wees nie.

Mnr. Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibiese Logistiekvereniging (NLA), het gemaan dit sal ’n “werklike geval van armoede” wees.

“Ek sê altyd ‘leë mae maak harde vuiste’. Die wat afhanklik is van dié wat werk, raak al hoe minder en die sonder werk al hoe meer. Dit kan ernstige gevolge vir die ekonomie van ons land inhou.”

Schmidt was egter gister hoopvol dat padvervoer ongehinderd na Namibië sal kan voortgaan.

“Ek is baie hoopvol dat die betekenisvolle verhouding wat bestuurders met personeel op grensposte het, die deurslag sal gee.”

Volgens hom was daar reeds die afgelope 24 uur onderhandelinge in die buurland met die owerhede en rolspelers by grensposte.

Van die gesprekke word gelei deur mnr. Mike Fitzmaurice, uitvoerende hoof van die Federasie van Oos- en Suider-Afrikaanse padvervoer-assosiasies (Fesarta) en waarvan Namibië ook ’n lid is.

Schmidt het gister aan Republikein gesê dit is ’n kwessie van ‘wag-en-kyk’, met alle padvervoerders wat bewus is van die situasie.

“Al ons vervoerders is ingelig en versprei onmiddellik inligting oor die werklike situasie by grensposte. Ons hou ook ons WhatsApp-groep dop vir enige nuwe inligting.

“In hierdie stadium is dit nog net bespiegelinge dat vervoerders nie by grensposte geholpe sal raak nie.”

Schmidt het ook beklemtoon padvervoer lewer noodsaaklike dienste, met wêreldwye negatiewe verwikkelinge soos die resessies in Amerika en Europa, wat reeds ’n geweldige negatiewe impak op invoere het.

Mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die land se grootste vervoergroep, FP du Toit Transport, het op sy beurt gesê gesprekke met rolspelers in die buurland het die belofte ingehou dat alternatiewe reëlings in plek sal wees en “hulle sal sorg dat dit nie gebeur” dat vervoerders op die Suid-Afrikaanse grensposte tot stilstand gebring word nie.

Terblanche het erken dit is ’n “baie, baie slegte tyd van die jaar”, omdat verskaffers gereed maak en voorberei vir die feesseisoen en hul “rakke wil vol hê”.

“Ons het reeds so groot agterstand weens onder meer die vloede in Suid-Afrika en Covid-19. Die verskaffingsketting word onder geweldige druk geplaas,” het hy gesê.

Volgens hom begin diensvlakke dié tyd van die jaar ook daal, omdat mense klaar ’n “feesatmosfeer” het.

“Een dag se ophoop by die grens en daar is geweldige druk en agterstand.”

Teen gister het die ander vakbonde in die Suid-Afrikaanse staatsdiens nog nie aangedui of en hoe hulle gaan staak nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.