Mathias Haufiku – Agribank is onder skoot van leningsbegunstigdes – veral dié onder die Regstellende Aksie-leningskema (AALS) – wat voel hulle word onregverdig geteiken wanneer dit kom by plase wat teruggeneem word.
Ingevolge die AALS, wat deur Agribank bestuur word, is altesaam 648 lenings ter waarde van N$776,4 miljoen toegestaan. Die grondoppervlakte wat onder die skema verkry is, beloop altesaam meer as 3,4 miljoen hektaar.
Agribank voer egter aan die uitskakeling van diegene wat hulle telkens aan wanbetaling skuldig maak, is noodsaaklik vir sy bestaan en dat die bank dus alle kliënte gelyk sal behandel.
Die bank voer tans ’n aantal sake in die hof om die regbank se goedkeuring te verkry om plase terug te neem wat in besit is van individue wat versuim het om hul lenings te vereffen.
GEBREK AAN ONDERSTEUNING
Ons susterkoerant Namibian Sun het die afgelope paar weke met minstens ses boere gepraat wie se plase op die punt is om teruggeneem te word weens gelde wat aan die bank verskuldig is. Hulle het almal gekies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisasie.
’n Algemene faktor in die boere se reeks klagtes is dat Agribank nie ondersteuning bied nie en na bewering weier om boere se aansoeke om herstrukturering van hul lenings goed te keur.
Dit benewens boere se misnoë oor die bank glo soos ’n kommersiële entiteit bestuur word in plaas van ’n ontwikkelingsbank met die doel om boere te bemagtig en by te staan om uiteindelik die regering se voedselsekerheidpogings te versterk.
‘ONGEREGULEERDE ENTITEIT’
Dit is volgens die regspan van die Suideboer Wiekus Steenkamp, wat gedurende September 2022 deur die bank hof toe gesleep is nadat hy versuim het om sy lening te vereffen.
Steenkamp het in hofstukke aangevoer Agribank is nie ’n handelsbank nie en word daarom nie deur sy gemagtigende wetgewing gemagtig om soos een op te tree nie.
“Artikel 2 van die wet bepaal dat Agribank nie onderhewig is aan enige wet wat bankinstellings in Namibië reguleer nie. As sodanig word die aansoeker [Agribank] nie gereguleer soos enige ander bankinstelling nie en word dit aan hom oorgelaat om homself te reguleer,” het hy aangevoer.
Hy het bygevoeg: “Hierin lê die gevaar. Wie kyk na die ongereguleerde entiteit om ingevolge sy bemagtigende wetgewing op te tree? In die lig hiervan vra ons die hof om die applikant volledig onder die soeklig te plaas.”
’n Week nadat Steenkamp se prokureurs hul hofdokumente ingedien het, het die bank die saak teruggetrek.
‘LAASTE UITWEG’
In reaksie op medianavrae verlede week het Agribank se uitvoerende hoof, dr. Raphael Karuaihe, bewerings ontken dat dit boere in die AALS-kategorie faal.
Hy het gesê die bank het die afgelope 10 jaar slegs drie plase wat in besit van AALS-begunstigdes was op ’n veiling verkoop.
“Soos met enige skuldeiser aan wie ’n debiteur iets verskuldig is, word die regsmiddel om fondse te verhaal uitgestippel en gereguleer deur die wet, wat Agribank nougeset en getrou volg. Indien ’n skuldenaar nie saamwerk nie, maak die proses voorsiening daarvoor dat ’n lasbrief van eksekusie verkry kan word en waarvolgens ’n bate teruggeneem kan word,” het hy gesê.
Ondanks beskuldigings dat die bank vinnig is om grond terug te neem, het Karuaihe gesê dié stap is Agribank se laaste uitweg, “daarom is ons terugnemingskoers baie laag vergeleke met die aantal wanbetalers”.
Oor bewerings dat Agribank se optrede strydig is met die regering se grondherverdelingspogings omdat voorheen bevoordeelde persone meestal skarrel om teruggeneemde plase te koop, het hy gesê: “Die veilingsproses is ’n openbare proses en val binne die jurisdiksie van die adjunkbalju. Agribank het geen beheer oor wie die suksesvolle bieër sal wees nie”.
Karuaihe het boere aangemoedig om die bank te nader en betalingsreëlings te tref in gevalle van wanbetaling.
Hy het ook sommige boere daarvan beskuldig dat hulle die bank se versoeke geïgnoreer het totdat laasgenoemde regstappe sou neem.
NIE GETEIKEN
“Agribank teiken nie plase van enige aangewese groep nie. Elke kliënt word op ’n kliënt-vir-kliënt-basis hanteer, met inagneming van die terugbetalingsgeskiedenis en tevredenheid. Die stelling dat Agribank plase teiken wat deur voorheen benadeelde persone besit word, is onwaar. Die aantal verbintenisse wat ons steeds met kliënte het, weeg veel meer as die regsaksies wat teen Agribank-kliënte ingestel is,” het Karuaihe gesê.
Hy het bygevoeg hoewel sommige lenings ingevolge die AALS toegestaan word, word sulke begunstigdes in die geval van wanbetaling hanteer soos enige ander kliënt van die bank wat versuim om hul leningsverpligtinge na te kom.
Terwyl van die boere gesê het om met Agribank te onderhandel om plaasveilings te staak “is soos om ’n bewegende trein te probeer stop”, het Jane Kuhanga, die voorsitter van die vereniging vir voorheen benadeelde kommersiële boere in Namibië (PDNCFU) gesê pogings is aan die gang om die opveiling van plase stop te sit na aanleiding van ’n vergadering met die bank se uitvoerende leierskap.
“Ons het ’n afvaardiging gehad wat onlangs saam met die nuwe voorsitter en uitvoerende hoof vergader het. Die vergadering het goed verloop en ons het besluit om probleme uit te stryk in plaas daarvan om na die media te hardloop. Ek glo daar was verstandhouding oor die saak, en ons het hulle gevra om die veilings te stop,” het sy gesê.
Volgens ’n boer wat sy plaas verloor het, het Agribank nie veel ondersteuning gebied nadat hy die grond gefinansier het nie.
“Sodra hulle jou finansier, volg hulle nooit op nie. Soms onderhandel jy met hulle, maar hulle sal reguit vir jou sê hulle sal jou plaas verkoop,” het ’n ander boer, wie se plaas opveil is, gesê.
NOG AANTYGINGS
Nog ’n boer het gesê Agribank het ’n finansiële gat gegrawe waarin boere kan val.
“Daar is geen ondersteuning nie. Hulle grawe ’n gat en stamp jou in. Hulle hou vergaderings om blykbaar probleme op te los, maar hulle hou dit nie in goeder trou nie,” voer die boer aan.
Hy beweer selfs al word reëlings getref om lenings af te betaal by wyse van ad hoc-betalings wat dikwels honderdduisende beloop, is dit steeds nie genoeg om die bank daarvan te weerhou om sukkelende boere se plase op te veil nie.
“Watter wanbetalende boer sal byvoorbeeld N$500 000 hê om te keer dat Agribank jou plaas opveil? Hulle sal sê dit is goed en ’n paar maande later weer eis. Daardie mense lieg blatant.”
Hy het bygevoeg boere vermy om met die media te praat uit vrees vir viktimisasie.
“As Agribank uitvind wie met die media praat, teiken hulle jou,” het nog ’n sukkelende boer beaam.
[Bron – Republikein]