Terwyl droë, koeler lug tans oor groot dele van die land gevestig het, sê die Namibiese weerkantoor dat dit nie voor die einde van dié week enige verdere reën in die land verwag nie.

Dit kom terwyl weerkenners meen dat die kans op die ontwikkeling van El Niño-toestande verdubbel het.

Boonop blyk dit dat die Indiese Oseaan ook neig om warmer te raak.

Die weerkantoor se hoofweervoorspeller, Odillo Kgobetsi, sê hy verwag dat droë lugtoestande sal voortduur om die westelike, suidelike en sentrale dele van die land te oorheers, terwyl wolke in die sentrale noordelike gebiede en in die Ooste sal voorkom.

“Reënbuie word teen die einde van die week in die sentrale Noorde en Ooste verwag.

“Droë, koel lug sal volgende week selfs meer oorheersend in die suidelike streke raak,” het Kgobetsi gesê oor weervooruitskouings tot 21 April.

Dit kom terwyl ryptoestande reeds die afgelope week in Suid-Afrika voorgekom het.

SEE RAAK WARMER

Die Australiese Buro vir Meteorologie het intussen ook sy Enso-uitkykstatus na ’n La Niña-wag verander, alhoewel Enso-toestande tans steeds neutraal is.

Enso staan vir die El Niño- Suidelike Ossilasieklimaatspatroon.

“Daar is ’n 50%-kans dat El Niño-toestande later vanjaar sal ontwikkel. Dit is sowat dubbel die kans as tydens ander, normale jare,” lui ’n verklaring wat die buro Dinsdag uitgereik het.

“’n Aansienlike hoeveelheid water wat warmer as normaal is, lê onder die oppervlakte van die westelike en sentrale Stille Oseaan. Daarbenewens raak die oppervlaktemperatuur van die oostelike Stille Oseaan ook hoër, terwyl die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) al hoe meer negatiewe waardes begin handhaaf,” word verduidelik.

Die SOI dien as ’n maatstaf vir die verhouding tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels.

Die Australiërs sê hierdie kan alles aanduidings wees dat El Niño-toestande dreig om te ontwikkel, alhoewel dit nog nie ’n gegewe is nie.

“Alle klimaatsmodelle dui egter daarop dat El Niño-drempels waarskynlik tydens die winter bereik of verbygesteek kan word.”

Nog nuus, wat minder goed vir Namibië se vooruitsigte vir reën later vanjaar is, is dat die Australiërs verwag dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) in die komende maande positief kan raak. Dit beteken water in dié see kan warmer as normaal raak.

ONDERGEMIDDELDE REëN

Dit kom terwyl Namibië tydens die afgelope reënseisoen oor die algemeen swak verspreide of ondergemiddelde neerslae gehad het.

Die weidingskundige, dr. Cornelis van der Waal, het onlangs gesê satellietdata toon dat plantegroei oor die meeste dele van die land gedurende Maart agteruitgang getoon het, met gebiede soos die Hardap-, ||Kharas-, suidelike Omaheke-, Oshana-, die groter Erongo- en groot dele van die Kunene- asook die Omusatistreek, waar dit ver ondergemiddeld is.

“Die res van die land ervaar tans normale tot ietwat ondergemiddelde plantegroei.

“Die suidelike, sentrale en westelike dele van die land is die ergste geraak en in baie van die gebiede het droë toestande die hele reënseisoen bly heers, wat beteken daar het min weiding gegroei,” het hy gesê.

Van der Waal het boere aangeraai om tans op proaktiewe bestuur te fokus om die risiko vir ’n weidingstekort tydens die komende droë seisoen so klein as moontlik te hou.

[Bron – Republkein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.