‘n Dreigement deur vulstasie-eienaars in Namibië om volgende week brandstofpompe vir die publiek te sluit, is volgens alle aanduidings minstens voorlopig van die baan, maar nie alle sakemanne in die bedryf is tevrede met die plan om eers weer later met die regering oor ‘n verhoging in sy marge vir kleinhandelaars te beding nie.

Lede van die Brandstof- en Franchise-vereniging (Fafa), die Namibiese Plaaslike Sakevereniging (Naloba) uit die Noorde en die Swartsakeleierskapsnetwerk van Namibië het verlede Woensdag in Windhoek vergader en talle sprekers het ‘n weeklange verkoopsboikot voorgestel indien vulstasie-eienaars se griewe nie summier aangespreek word nie. Die protesaksie sou volgende week begin.

Die instel van ‘n “tussentydse reddingsmarge” was maar net een van sewe kwessies op die bedryf se klagskrif.

Eienaars sê die bedryf se winsgewendheid huiwer by ‘n breekpunt.

Bedryfsverteenwoordigers het Maandagoggend met die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, vergader en die uitslag van die gesprek is op skrif gestel, met ‘n onderneming dat eienaars se marge volgens inflasie aangepas sal word wanneer pryse stabiliseer en daar weer oorverhaling by pompe is.

Die vuur was nog skaars doodgeslaan toe die Namibiese Vervoer- en Taxivakbond (NTTU) die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, ook Maandag kennis gegee het dat ‘n staking vanaf 26 Julie in Windhoek sal plaasvind totdat ‘n verhoging van 40% in huurmotor-tariewe toegestaan word. Dié stap kan volgens die president van die NTTU, mnr. Werner Januarie, tot ‘n landwye staking lei.

Die polisie en munisipaliteit van Windhoek is ook Maandag oor die staking ingelig.

Volgens Januarie word volgehoue smeekbede vir verhogings bloot geïgnoreer. Sedert Maart is volgens hom geen terugvoering van die minister se kantoor ontvang nie.

Taxitariewe is volgens Januarie minstens twee jaar laas aangepas. Brandstof is nie die bedryf se enigste uitgawe nie. Instandhouding van taxi’s is volgens hom ook duur en tans lei die bedryf groot verliese.

“Dis asof ons ‘n liefdadigheidsorganisasie bestuur, nie ‘n besigheid nie,” sê Januarie.

VULSTASIES

“Die minister het wat my aanbetref belangrike toegewings gemaak,” sê mnr. Hennie Krüger, die voorsitter van Fafa, oor Maandag se ontmoeting met Alweendo.

“Ek is werklik verlig en verheug.

“Daar was ‘n klompie uitdagings wat opgehoop het,” het hy gesê oor die aanloop tot ‘n “finale” kennisgewing aan die regering nadat griewe ook aan Staatshuis gekommunikeer is. In April is daar met die ministerie vergader, maar toe het gesprekke weer doodgeloop.

Volgens Krüger het die indaba in Windhoek eenparige resolusies aangeneem, maar was daar verskille oor of ‘n staking die regte uitweg is. Korporatiewe eienaars kon byvoorbeeld nie die groen lig hiervoor gee nie.

Krüger sê die bedryf sou in elke geval weer moes vergader om die mandaat vir die protesaksie te kry.

Hy erken almal is nie bly dat die staking eers moet wag nie. Volgens Fafa se voorsitter was die minister se reaksie egter baie positief en ‘n platform is nou geskep vir verdere onderhandelinge. As hierdie weer “oëverblindery” is, kan die prentjie volgens Krüger egter verander.

“Gaan Google en kyk watter besigheid sake teen ‘n brutowins van 5% kan doen,” het Krüger gesê. Dit is voor alle lopende kostes, belasting en ander aftrekkings.

“Dit kan hierdie maand al wees, of nie …” het hy oor die verwagte stabilisering in invoerpryse gesê.

Vulstasie-eienaars waarmee gesels is, sê die doel is om die regering te oortuig hoe belangrik die bedryf is, wat tans “forseer” word om brandstof teen gereguleerde pryse te tap. Dringende ingryping is volgens hierdie sakemanne nodig om die sluiting van ondernemings te verhoed.

“Dit is die regering wat ons vertel teen watter prys ons brandstof kan verkoop, en daarom moet hulle die kwessie aanspreek,” het een vulstasie-eienaar gesê. “Elke keer wanneer brandstofpryse styg, neem die winsgrens af. Ons bedryf sake teen ‘n verlies.”

Verskeie klankopnames doen die rondtes in sosiale media en vra verbruikers om maar seker te maak hulle tenke is vol.

Vulstasie-eienaars se huidige marge op die brandstofprys is N$1,13 per liter. Die laaste aanpassing was in 2017.

Die huidige opskorting in sekere heffings om pryse te stabiliseer, loop vandeesmaand tot einde indien dit nie verleng word nie.

Volgens ‘n ander vulstasie-eienaar “verwurg” die regering die bedryf met regulasies en daarom veg hulle nou terug.

GEEN REDE TOT PANIEK

Die petroleumkommissaris, me. Maggy Shino, het gister gesê daar is geen rede vir paniek nie.

Volgens haar is daar tydens Maandag se ontmoeting eenstemmigheid oor die pad vorentoe bereik. “Die regering se posisie is dat onder huidige ekonomiese omstandighede, wat tot die afgelope maande se verhogings in brandstofpryse gelei het, nie geen verhogings in enige marges toegelaat kan word nie,” het Shino verduidelik.

Sy het die ooreenkoms bevestig dat daar gewag sal word tot pryse stabiliseer.

In sy skrywe aan die klaers benadruk Alweendo dat hy volledige begrip vir hul situasie het.

Sommige vulstasie-eienaars voel egter hulle is nou in die nood – sonder dat daar enige teken is dat verligting binnekort gaan aanbreek.

“Ons sal dalk steeds moet sluit om druk op die regering uit te oefen,” sê een handelaar. “Hulle moet die uitwerking voel.

“Ons wil nie die verbruiker seermaak nie, maar ons moet druk plaas op ‘n regering wat ‘n sê in ons besigheid wil hê.”

Nie almal ondersteun ‘n verkoopsboikot nie. Veral langs belangrike vervoerkorridors kan eienaars dit nie eintlik bekosting om hul pompe te sluit nie.

“As hulle hier kom stop, kan ek nie nee sê nie,” het een so ‘n vulstasie-eienaar verduidelik. “As ek nee sê, sal ‘n ander vulstasie my klante help.”

Mnr. Utaara Hoveka, Namcor se woordvoerder, het gesê die onderneming wil nie kommentaar lewer nie en sal ook nie aan so ‘n protes deelneem nie.

ANDER KWESSIES

Namcor is ook indirek in vulstasie-eienaars se visier weens hul aggressiewe toetrede tot die kleinhandelmark deur die oprigting van vulstasies op verskeie plekke en ‘n advertensieveldtog om klante werf – ‘n gegewe wat winste nog verder erodeer.

Oor die versoek vir ‘n verbod op die toestaan van nuwe kleinhandellisensies was Alweendo se antwoord dat baie streng keuring nou plaasvind en sy ministerie is ook besig om die aansoekproses te hersien.

Volgens Alweendo is Namcor egter nie skuldig aan nie-mededingende gedrag nie omdat dit as grootmaatleweransier funksioneer. Namcor reguleer volgens die minister ook nie brandstofbedryf nie, maar kan as plaaslike handelsmerk ‘n katalis wees om plaaslike eienaarskap en voorsiening te verbeter.

Oor die herinstel van ‘n jaarlikse hersiening van marges het Alweendo voorgestel dat die bedryf eenmalig op eie koste so ‘n ondersoek doen, wat dan as grondslag vir jaarlikse inflasie-aanpassings kan dien.

Alweendo het gesê belanghebbendes sal byeengeroep word om te gesels oor wetlike interpretasies van die feit dat groothandelaars nie die kleinhandel vertikaal mag binnedring nie. Die vraagstuk hou verband met die klagte dat brandstofvoorsieners kleinhandelaars uitskop en dan vulstasies in toesighoudende hoedanigheid bestuur.

Die minister het ook gesê daar is gesprekke met die Bank of Namibia oor hoe handelsbanke vulstasies se winste verminder met kommissie op bankkaarte, bankkostes en aankope met petrolkaarte.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.