Tussen November verlede jaar en Februarie vanjaar was voedselinflasie in Namibië tussen 5% en 30% – van die hoogste in die wêreld.

Plaaslike voedselinflasie het algemene inflasie in dié drie maande met méér as 5% oorskry.

Dit aldus ’n Wêreldbank-verslag oor wêreldwye voedselsekuriteit wat op 9 Maart uitgereik is.

Hiervolgens was voedselinflasie net so erg in ander lande in Suider-Afrika, met Zimbabwe wat die ergste geraak is met voedselinflasie van 264%. Dit oorskry algemene inflasie met 41% in dié land.

In Desember het voedselinflasie in Namibië op 12% gestaan. Januarie vanjaar het die syfer egter verder geklim tot by 14,3%, volgens statistiek wat deur die Wêreldbank bygehou word. Dit is egter vergelykbaar met Suid-Afrika, waar inflasie oor dié twee maande ook onderskeidelik 12,8% en 14,1% was.

Volgens die Wêreldbank is die ergste inflasie sedert November verlede jaar in bykans alle lae- tot middelinkomstelande gesien. Afrika, Noord-Amerika, Latyn-Amerika, Suid-Asië, Europa en Sentrale Asië is die ergste geraak.

JAAR-TOT-JAAR

Op ’n jaar-tot-jaar basis is die prys van mielies en koring 15% laer, terwyl rys 19% duurder is.

As pryse in Februarie egter met dié van 2021 vergelyk word, is die prys van mielies en koring onderskeidelik nou 24% en 7% duurder, en rys 3%.

Daar heers wêreldwyd steeds onsekerheid binne landboumarkte terwyl die oorlog in Oekraïne voortduur. Minder produksie in dié land beteken ander lande moet meer grane en oliesade plant om te help om wêreldwye reserwes aan te vul en pryse te help stabiliseer.

In ’n onlangse artikel deur die Wêreldbank word gewaarsku dat wêreldwye voedselpryse hoog sal bly en dat nuwe beperkinge op uitvoere dit opnuut die hoogte in kan jaag, al het dit onlangs weer gedaal sedert dit rekordhoogtes bereik het.

Die voortdurende konflik tussen Rusland en Oekraïne beteken egter onsekerhede oor voedselsekuriteit sal ’n realiteit in die toekoms bly.

KWESSIES

Die Wêreldbank sê terwyl goeie weerstoestande in sekere gebiede en ’n sterk reaksie in terme van produksie onder boere waargeneem is, sal verskaffingstekorte tot groter wisselvalligheid in voedselpryse lei.

Die wêreldwye produksie van koring het ietwat in 2022 toegeneem en sal na verwagting vanjaar met nog 2,1% groei danksy groter uitsette hiervan deur Kanada en Rusland. Verlede jaar het die wêreld egter 4,5% minder mielies as in 2021 geproduseer, hoofsaaklik as gevolg van laer produksiesyfers in Europa, Oekraïne en Amerika.

Rysproduksie het ook verlede jaar toegeneem met lande soos Indië wat meer daarvan begin produseer het, ondanks Pakistan en Tanzanië wat minder geproduseer het.

Droogtetoestande in Argentinië en Paraguay sal die produksie van sojabone negatief raak, ongeag daarvan dat Indië beoog om meer van dié gewas te produseer.

[Bron – Rebupublikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.