Boere se kuddeherbouingsfase ná die verwoestende droogte tot 2019, is klaarblyklik verby.

Daarmee saam het die buitengewoon hoë pryse wat vir speenkalwers deur beide Suid-Afrikaanse asook plaaslike beesboere op veilings betaal is, tot ’n einde gekom en het pryse weer gestabiliseer.

Volgens Simonis Storm se jongste Agrimonthly-uitgawe het die tendens van baie hoë speenkalfpryse teen middel-2022 omgedraai. Die verslag dui egter dat veilingspryse vanjaar oor die algemeen ’n effense opwaartse neiging getoon het.

Die prys vir bokke het met 6,7% toegeneem en vir skaaplammers met 3%. Daarteenoor was tollies die enigste groep waar die prys met 3,3% gedaal het.

Tog is die prys vir tollies oor die afgelope weke weer goed, met pryse van tot N$50 per kg wat in die afgelope week op plaaslike veilings betaal is.

VERSLAGTING

Simonis Storm sê egter die bemarking van beeste toon steeds ’n afwaartse neiging en het op ’n jaar-tot-jaar-basis in Oktober met 28,1% gedaal.

Altesaam 4,1% minder skape en 20,3% minder bokke is geslag. Slegs die verslagting van varke het met 7,6% toegeneem.

Die uitvoer van vee op die hoef is ook aansienlik meer as ’n jaar gelede. Die uitvoer van beeste het met 23,1% toegeneem en bokke met 50,1%, terwyl skaapuitvoere met 3,6% gedaal het.

Suid-Afrika en Botswana was die enigste uitvoerbestemming vir Namibië se skaap- en varkprodukte, terwyl die meeste beesvleisuitvoere na die Europese Unie gegaan het (71,4%) en daarnaas na Suid-Afrika (12,8%) en Noorweë (3,2%).

Tog het die bemarking van lewende hawe vanjaar beter gevaar as verlede jaar gedurende dieselfde tyd.

Namibiese uitvoerabattoirs het die verskil in die A2-karkasprys vir skaap, in vergelyking wat by abattoirs in die Noord-Kaap betaal word, na net 27 sent in Oktober vanjaar verminder. Daarteenoor was die verskil in Oktober verlede jaar N$6,18 per kg.

“Die plafonprys vir varkvleis het ook met 18,4% toegeneem vanweë stygings in die Suid-Afrikaanse prys, waarop plaaslike pryse gebaseer is. Terselfdertyd het die Vleisraad van Namibië ook die formule vir die plafonprys hersien,” dui die verslag aan.

VIS

Volgens die verslag het die waarde van visuitvoere ook met 20,4% gedaal, terwyl dit in Augustus 4,5% minder was as ’n jaar vantevoere.

Op ’n maandelikse basis het die uitvoer van vis met 21,9% teen September gedaal, terwyl dit in Augustus 16,5% geklim het.

Op ’n jaar-tot-datum-basis is die waarde van visuitvoere minimaal meer as verlede jaar (Januarie tot September).

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.