Die jongste verwikkelinge in die plaaslike beesverslagtings- en uitvoerbedryf mag dalk tot die redding van plaaslike speenkalfpryse kom.

Dit terwyl die Namibiese speenkalfbedryf klaarblyklik al hoe meer aandeel in Suid-Afrikaanse voer­krale verloor weens mededinging met ­Botswana asook die gevolge van die onlangse bewegingsverbod op beeste in die buurland.

“Ek is baie optimisties daaroor dat die speenkalfprys mededingend sal bly,” sê mnr. Desmond Cloete, hoofbemarkingsbeampte by die Vleisraad van Namibië.

“Ek is positief dat vanweë die toetrede van Savanna Beef, die uitbreiding van Beefcor om ’n groter deurset van vee te kry asook Meatco, wat steeds ’n beduidende rol sal speel, raak die plaaslike behoefte aan speenkalwers net groter.

“Die verwikkelinge sluit aan by die regering se doelwit om plaaslike verslagting te bevorder. Ons reken daarop dat die aandeelhouers in Savanna op hul belegging sal kapitaliseer deur beeste vir die instansie te lewer.

“Tydens Meatco se onlangse jaarvergadering was rolspelers dit ook eens dat die instansie bestaansreg het en daar na sy doeltreffendheid gekyk moet word.

“Ek glo danksy dié drie instansies behoort daar ’n werklike, gesonde vraag na Namibiese speenkalwers te wees, terwyl die Suid-Afrikaanse mark nie uit die prentjie gelaat moet word nie.”

Cloete sê as dit by speenkalwers kom, het Namibië verskillende bemarkingskanale: Die een is die Namibiese boer wat ’n kalf koop om dit vir die uitvoermark groot te maak. Die ander is Suid-Afrikaanse voerkrale.

IMPAK VAN BEWEGINGSVERBOD

Cloete sê volgens die Vleisraad se statistiek, het die Namibiese speenkalfprys met gemiddeld N$2,50 gedaal toe Suid-Afrika ’n bewegingsverbod op beeste in die middel van Augustus ingestel het.

“Die prys is egter besig om te herstel nadat die beperkings opgehef is en ons voer nou weer speenkalwers uit,” het hy verduidelik.

“Ons het intussen egter gesien dat Namibië sy mededingendheid in die Suid-Afrikaanse mark verloor het as gevolg van Botswana se toelating tot die mark. Botswana het ons markaandeel oorgeneem, want hulle is nader aan Suid-Afrika geleë en produseer meer kalwers,” het Cloete verduidelik.

Hy sê boonop het slagpryse wat vir produsente betaal word, ook ’n negatiewe uitwerking op speenkalfpryse.

“Die verhouding tussen die B2-slagprys en die speenkalfprys dui aan of osproduksie of speenkalfproduksie die winsgewendste is. Dit is gesond vir die speenkalfbedryf as die speenkalfprys tussen 60% en 64% van die B2-slagprys is.

“Tans kry die produsent nie die prys wat hy behoort te kry as dit by vleis­uitvoere kom nie. Uiteindelik raak dit ook die speenkalfprys,” sê hy.

WAAK TEEN BEK-EN-KLOUSEER

Cloete waarsku egter die bedryf sal streng teen bek-en-klouseer moet waak, wat die markte vir plaaslike vleis onmiddellik sal laat wegval, wat beteken pryse kan so laag as N$15 per kg vir speenkalwers daal.

“Ons sal ons bedryf moet oppas. Dit is hoekom die Vleisraad en die land se veeartsenydienste tans streng maatreëls teen die siekte op grense toepas.

“Ons kyk ook na die grensheining met Botswana en die elektrifisering daarvan – ons kyk na alle risiko’s en takel dit so gou as moontlik,” het hy gesê.

STATISTIEK

Die Namibië Statistiekagentskap (NSA) het in sy bulletin vir die tweede kwartaal van 2022 gesê die saamgestelde veilingspryse vir beeste, bokke en skape het met 1,5% gegroei, teenoor ’n toename van 18,4% in die tweede kwartaal van 2021.

Die stadige groei in ­veilingspryse was veral merkbaar onder beeste en bokke, terwyl skaappryse in die tydperk verlaag het.

Die gemiddelde veilingspryse vir beeste het met 2,7% gestyg, heelwat minder as die tweede kwartaal in 2021 se 23,9%. Die pryse vir vet koeie, store en slagosse het die meeste groei getoon, van onderskeidelik 10,6%, 6,2% en 10,1%.

Die prys vir maer koeie het egter met 12,3% gedaal. Die hoogste gemiddelde prys van onderskeidelik N$36,58 per kg en N$36,20 per kg is vir speenkalwers en tollies betaal.

Skaappryse het oor die tydperk ’n daling van 7,6% getoon, vergeleke met ’n daling van 4,9% in die tweede kwartaal van 2021.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.