“Hou bek-en-klouseer ten alle koste uit julle land. Die prys van voorkoming is minimaal in vergelyking met wat dit sal kos om skadebeheer toe te pas as die siekte uitbreek.”

Dit was Dinsdag die woorde van die uitvoerende hoof van Suid-Afrika se Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), mnr. Gerhard Schutte, aan afgevaardigdes by die 59ste kongres van Namibië se Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO).

Schutte het dié opmerking gemaak in ’n groeteboodskap van die RPO aan sy Namibiese susterorganisasie.

Suid-Afrika beleef tans talle uitbrekings van bek-en-klouseer en streng bioveiligheids- en ander maatreëls is deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in samewerking met die Vleisraad ingestel om te voorkom dat dié hoogs aansteeklike dieresiekte vanuit Suid-Afrika hierheen versprei.

Mnr. Paul Strydom, ­hoofbestuurder van die Vleisraad, het aan kongresgangers gesê 22 bykomende personeellede is na grensposte tussen Namibië se sy suidelike buurland ontplooi om voertuie wat die land binnekom, te ontsmet. Die insittendes moet ook deur voetbaddens loop.

Vragmotors wat beeste of skape na voerkrale of abattoirs vervoer, moet met hul terugkoms ’n sertifikaat toon as bewys dat dit ontsmet is.

Strydom het daarop gewys die grootste risiko vir die verspreiding van bek-en-klouseer na die bek-en-klouseer vrye boerderygebied suid van die veterinêre kordonheining of rooilyn, is die gebrekkige instandhouding van dié heining.

Hy sê boere soos mnr. Dawie Kok en ander wat noordoos van Grootfontein boer, werk na-ure om dele van die grensheining wat tot teen die Bo­tswana-grens strek, self in stand te hou.

Die LPO en ander agri-vennote het Cirrus Capital aangestel om ’n studie te doen na wat die ekonomiese impak sal wees indien Namibië sy dieregesondheidstatus verloor, en gevolglik ook sy status om rooivleis na buitelandse markte te kan uitvoer.

Die ander kant van die munt is ook ondersoek, naamlik hoe die land daarby sal baat as die dieregesondheidstatus in die noordelike kommunale gebiede (NCA) noord van die rooilyn sodanig verbeter dat dit by die suidelike bek-en-klouseer vrye gebiede ingelyf kan word.

Die studie het bevind dit sal aansienlike voordele vir die ekonomie inhou.

Dit sal oor ’n tydperk van 10 jaar N$7,54 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP) bydrae, tesame met kapitaalvorming van N$3 miljard en fiskale groei van N$1,5 miljard.

Daarmee saam sal huishoudelike inkomste met N$5,5 miljard verhoog en werksgeleenthede sal toeneem.

Die studie het egter gewys dat sou Namibië sy uitvoerstatus verloor, dit oor ’n tydperk van vyf jaar tot ’n reuseverlies van N$12,46 miljard vir die BBP sal ly.

Daarmee saam sal dit lei tot ’n verlaging van N$5 miljard in kapitaalvorming, ’n fiskale verlies van N$2,4 miljard en ’n daling in huishoudlike inkomste van N$9,24 miljard.

Heelwat werksgeleenthede sal ook in die proses verlore gaan, toon die impakstudie.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.