Verskeie boere van die Seeis-Omitara-Witvlei-omgewing het Maandagmiddag help soek na twee vermeende veediewe wat te voet gevlug het nadat hulle, ná ’n jaagtog op die D1535-distrikspad met die polisie kort op hul hakke, op die plaas Okatumba stilhou, uitgespring en die veld in gevlug het.

Die derde man in die voertuig, ’n 24-jarige inwoner van Witvlei, is wel aangekeer en in hegtenis geneem.

Volgens komm. Ismael Basson, bevelvoerder van die polisie in die Khomasstreek, is die opgesnyde karkas van ’n bul agterin die silwerkleurige Polo gevind.

Hy sê dit het later aan die lig gekom hulle het die voertuig by ’n motorverhuringsmaatskappy gehuur.

Die voertuig is opgemerk toe dit omstreeks halfdrie Maandagmiddag kort voor ’n padblokkade wat deur die Seeis-polisie op die B1-hoofweg opgestel is, ’n U-draai gemaak en weggejaag het.

Die polisie het hulle agternagesit toe hulle van die hoofpad op die D1535 afdraai.

Boere in die omgewing is ontbied om met die soektog na die mans te help toe hulle stilhou en te voet die veld in vlug.

Basson sê ’n private helikopter van een van die plaaseienaars in die omgewing is ook gebruik om na die mans te help soek.

Volgens hom weet die mans wie die twee voortvlugtiges is en is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle ook agter tralies is.

Hulle makker word intussen by die polisiekantoor op Seeis aangehou.

Basson sê die ondersoek na die voorval duur voort.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.