Die bemarking van groot- en kleinvee het in die eerste ses maande van vanjaar ‘n goeie oplewing getoon in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Wat beeste betref, is 20,33% méér beeste in die eerste ses maande van 2022 bemark – 121 555 beeste teenoor die 101 016 tussen Januarie en Junie 2021.

Skaapbemarking het ‘n besonder stewige oplewing beleef, met ‘n 38,02%-toename in verslagtings en uitvoere in die eerste helfte van vanjaar teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Altesaam 322 791 skape is van Januarie tot Junie vanjaar bemark, teenoor 233 880 verlede jaar.

Die syfers vir bokke lyk as volg: 55 217 is in die eerste helfte van vanjaar bemark, teenoor 50 898 in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit verteenwoordig ‘n jaar-op-jaar styging van 8,49%.

Dié syfers deur die Vleisraad is bekend gemaak in die Lewendehaweprodusenste-organisasie (LPO) se kongresverslag. Afgevaardigdes van boereverenigings was Dinsdag vir dié organisasie se 59ste kongres in Windhoek byeen.

Die LPO wys in die verslag daarop veeproduksie, wat varkboerdery insluit, is steeds die belangrikste landbou-aktiwiteit in Namibië en verteenwoordig sowat 76% van die totale landbou-uitset.

Verlede jaar was nie ‘n goeie bemarkingsjaar vir beeste nie en getalle het met 7,14% (18 552) afgeneem teenoor wat dit in 2020 was. Een van die belangrikste redes was dat boere hul beeste teruggehou het in ‘n poging om hul kuddes ná die fel droogte van 2019 te herbou.

Die bemarking van skape het in 2021 beter gevaar as in 2020, met ‘n styging van 7,06% (26 398 skape). Die Suid-Afrikaanse uitvoermark is tans die vernaamste bemarkingskanaal vir Namibiese skape met baie goeie pryse wat betaal word.

In die eerste helfste van vanjaar is 57,87% (98 595) méér skape op die hoef na Suid-Afrika uitgevoer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Verslagtings het in 2021 met 21,77% gedaal teenoor wat dit die vorige jaar was – wat 31 811 skape minder is as in 2020 toe 146 131 skape geslag is.

Die daling was effens minder in die eerste ses maande van vanjaar teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar – 53 821 teenoor 63 505, wat ‘n daling van 15,25% is.

Die bokbedryf het ‘n gesonde toename in bemarking in 2021 beleef, met ‘n totale bemarking van 112 221 diere teenoor 87 944 in 2020. Dit verteenwoordig ‘n styging van 27,61%.

Die LPO wys daarop dat die oplewing in die veesektor te midde van die bogemiddelde La Niña-reënval en stygende vleispryse ’n aansporing vir boere is om te herbestok ná jare se droogte.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.