Landbouers het tussen 2015 en 2020 sowat N$217,5 miljoen opgedok vir verliese aan vee- en wild.

Die verliese is gely weens diefstal en roofdiere, mens-dier-konflik asook die gepaardgaande teenstropingsmaatreëls.

Verlede jaar alleen het boere N$14,7 miljoen aan veediefstal verloor, N$22,5 miljoen aan roofdiere, asook N$9,4 miljoen aan gesteelde infrastruktuur op plase.

Altesaam N$12,2 miljoen is aan beheermaatreëls teen diefstal bestee, en ’n bykomende N$6,4 miljoen om roofdiere weg van vee te hou.

Wildstropery het in 2021 vir landbouers ’n verlies van N$17,7 miljoen beteken, terwyl hulle N$10,3 miljoen moes opdok om stropery te probeer bekamp. Skade as gevolg van mens-dier-konflik het nog N$7,9 miljoen beloop, terwyl voorkomingsmaatreëls teen mens-dier-konflik boere ’n verdere N$6 miljoen uit die sak gejaag het.

Dié syfers kom uit ’n studie oor die ekonomiese impak van vee- en wilddiefstal, asook konflik tussen mense en wild, wat deur die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) asook die Universiteit van die Vrystaat van stapel gestuur is.

“Dit grens aan ekonomiese sabotasie en vereis drastiese optrede – nie net van die polisie nie, maar ook justisie en die regstelsel in geheel,” het mnr. Piet Gouws, president van die Namibië Landbou-unie (NLU) gister tydens die NLU-kongres in Windhoek gesê.

“Die impak hiervan is enorm en ons vertrou dat die regering hierdie inligting ter harte sal neem en verantwoordelik en toepaslik sal optree.”

Nust se dr. Salamo Mbai het Woensdag tydens die afgelope Agri Vooruitskouingskonferensie verslag oor die studie gedoen, wat steeds voortduur.

“Dink net as ons hierdie syfers eerder by die bruto binnelandse produk (BBP) kon voeg,” het Mbai gesê.

Hy het gesê die studie het altesaam 370 boere in agt streke van die land ingesluit– lede van beide die NLU, die Namibië Ontluikende Kommersiële Boere-unie (Necfu) asook die Boere-Unie vir Voorheen Benadeeldes (PDNFU).

ONTLEDING

Verlede jaar is die meeste beeste (338) in die Otjozondjupastreek gesteel, gevolg deur die Omahekestreek met 231.

Wat skape betref, is dit hoofsaaklik die Suide wat deurloop. Verlede jaar is 2 640 skape in die ||Kharasstreek gesteel, en 1 357 in die Hardapstreek.

Die meeste infrastruktuur word in die Otjozondjupastreek gesteel – verlede jaar is meer as N$4,5 miljoen se verliese gely.

Roofdiere het in 2021 ook die meeste beeste in die Otjozondjupa- en Omahekestreek geëis (onderskeidelik 420 en 268), terwyl die Hardap- en ||Kharasstreek onder roofdiere deurgeloop het met onderskeidelik 4 632 en 1934 skape wat gevang is.

Wat beesdiefstal betref, is die Kunene die ergste tussen 2015 en 2020 getref, met 1 027 beeste wat as gesteel aangemeld is. Daarnaas word Otjozondjupa die ergste geraak met 799 beeste wat as gesteel aangemeld is, met die Omaheke wat kort op dié streek se hakke is met 661.

Wat skape betref, het ||Kharas en Hardap die ergste deurgeloop, met onderskeidelik 2 513 en 1 588 skape wat gesteel is.

Bitter min diere word ooit teruggevind – in die Omaheke is 61 beeste teruggevind – die meeste in enige streek oor dié vyf jaar.

Die ||Kharasstreek het ook die meeste skape teruggevind – altesaam 230.

Vier streke loop die ergste onder roofdiere deur. Boere in die Otjozondjupa- en Khomasstreek het tussen 2015 en 2020 onderskeidelik 1 569 en 1 293 beeste aan roofdiere verloor, terwyl boere in ||Kharas en Hardap onderskeidelik 5 206 en 6 858 skape verloor het.

Wat wildstropery betref, loop Erongo en Otjozondjupa die ergste deur. Tussen 2015 en 2020 is 875 gevalle van wildstropery in die Erongostreek aangemeld. Dié syfer het drasties toegeneem en net in 2021 is 2 637 gevalle aangemeld.

In die Otjozondjupastreek is dieselfde tendens opgemerk, met sowat 705 gevalle van wildstropery tussen 2015 en 2020, met 1 566 gevalle wat net in 2021 aangemeld is.

TOENAME

Mbai sê studies toon dat wildstropery wêreldwyd toeneem asook die steel van vee, terwyl georganiseerde misdaad al meer hier gevind word.

Boonop veroorsaak roofdiere soos jakkalse, luiperds asook bruin hïenas beduidende verliese vir veral kleinveeboere, terwyl die roofdiere ook dikwels beeskalwers teiken.

Boonop staan Namibiese boere alleen as dit by die bestryding van roofdiere kom – en moet hulle al die koste self dra.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.