Reisigers, personeel en lugredery is volgens ‘n bron op die Internasionale lughawe Hosea Kutako “totaal verlore” nadat die Namibiese Lughawemaatskappy (NAC) vanoggend bevestig het Paragon Holdings neem Menzies se grondhanteringsdienste vanaf vandag oor.

“Dit is totale chaos! Drie vliegtuie is gestrand in Johannesburg en weet nie wanneer hulle kan en mag opstyg nie. Toeroperateurs weet nie of hulle steeds toeriste moet optel nie. Mense weet nie of hul vlugte opgeskort is of nie. Dit is ‘n totale nagmerrie vir Namibiese toerisme en ons land,” het ‘n bron gesê.

‘n Diensverskaffer by die lughawe het vroeër die chaos bevestig en beweer Paragon het ‘n ‘stoplys’ getoon dat Menzies nie op die perseel toegelaat word nie en dat die maatskappy se permitte gekonfiskeer moet word. Volgens die bron is geen van die diensverskaffers op die lughawe – ingesluit sekuriteit – deur die NAC oor die jongste verwikkelinge ingelig nie.

Dit beteken diensverskaffers mag nie Menzies se personeel verwyder nie, omdat hulle steeds ‘n kontrak met die maatskappy het, terwyl Paragon se kontrak vir die plasing van personeel nog nie gefinaliseer is nie. Vlugte moes na bewering herlei of opgeskort word. Dit sluit in ‘n vlug van Eurowings wat na Johannesburg herlei moes word.

In ‘n verklaring wat gister vrygestel is, het Menzies die publiek verseker dit sal “ten minste vir die volgende 12 maande” dienste by die lughawe lewer. Dit volg ná ‘n hoërhofbevel op 9 Augustus dat die maatskappy en die NAC inderdaad ‘n ooreenkoms in plek het, ten spyte van die feit dat die vorige een verval het. Volgens die bevel moet die NAC Menzies kennisgewing van 30 dae gee om die lughawe te ontruim, sou hulle die kontrak wou beëindig. Menzies beweer in hul verklaring die bevel dat kennisgewing van 30 dae gegee moet word, is in “omstandighede gemaak waar die hof nie bewus was van die effek van ‘n huurordinansie nie”. Paragon wou gister nie kommentaar oor Menzies se jongste verklaring lewer nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.