Ellanie Smit – Twee polisiebeamptes wat vir onwettige jag in hegtenis geneem is, is gister borgtog in die landdroshof in Katurura geweier.

Eulu Isaks en Marien Ngouabi Namoloh, albei adjudant-offisiere binne die Namibiese polisie (Nampol), is in hegtenis geneem nadat hulle glo onlangs vier gemsbokke sonder ’n permit op ’n plaas naby die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) gejag het.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Romeo Muyunda, het hulle inligting ontvang dat iemand onwettig wildsvleis verkoop.

Die oggend van 7 Augustus het drie amptenare van die ministerie en ’n lid van die polisie die verkoper gekontak en aangedui dat hulle wildsvleis wil koop, het Muyunda gesê.

“Die verkoper het geantwoord dat vars wildsvleis beskikbaar is en het die adres gestuur.”

Muyunda het gesê vleis van twee gemsbokke is by die woonstel gevind, terwyl nog twee karkasse aan twee verskillende polisiebeamptes verkoop is.

Hy het bygevoeg ondersoeke het aan die lig gebring dat die gemsbokke onwettig op 6 Augustus op ’n plaas naby die lughawe geskiet is.

’n Saak is aanhangig gemaak vir die onwettige jag van jagbare wild by die Otjomuise-polisiekantoor – waar beide betrokke beamptes gestasioneer is.

Die saak is tot 18 Oktober uitgestel.

“Albei is borgtog geweier, met die opsie vir ’n formele borgtogaansoek,” het Muyunda gesê.

Hy het gesê wetstoepassers se betrokkenheid by stropery is kommerwekkend, hoewel die gevalle geïsoleerd is.

“Dit is teleurstellend dat mense wat veronderstel is om die wet te handhaaf, diegene is wat dit oortree.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.