Die Suid-Afrikaanse verbod van 21 dae op die beweging van beeste in reaksie op die bek-en-klouseer-uitbrekings en die daaropvolgende sluiting van die Namibiese grens vir speenkalfuitvoere na die buurland, behoort nie ‘n rampspoedige impak op die plaaslike speenkalfbedryf te hê nie.

So sê mnr. Paul Klein, hoofbestuurder van veilings by Agra.

“Mense kry soms die idee ons speenkalfprodusente is totaal afhanklik van die Suid-Afrikaanse voerkrale, wat nie die geval is nie. Daar is heelwat plaaslike kopers wat speenkalwers koop en vir 12 tot 15 maande laat uitgroei op die veld, waarna hulle dit as osse bemark.”

Hy sê kopers van speenkalwers wie se diere reeds in isolasiekrale staan in afwagting van die nodige dieregesondheidsklarings vir uitvoer na Suid-Afrika, sal vir die volgende twee of wat weke vir dié diere volvoer moet gee. “Vir hulle het die verbod ‘n koste-implikasie, maar nie vir boere wat speenkalwers gekoop het om hulle op die veld groot te maak nie.”

Klein sê die speenkalfveilingseisoen staan gelukkig ook einde se kant toe, met Agra wat byvoorbeeld nog net drie speenkalfveilings oor het.

“By ‘n speenkalfveiling verlede week in die Suide was die kopers in elk geval net plaaslike produsente en nie voerkrale nie.”

Mnr. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), sê die beesbedryf was verlede week toe Suid-Afrika die verbod afgekondig het, baie bekommerd dat dit pryse by veilings sou laat daal.

“Laasweek was daar groot onsekerheid oor pryse, maar dit het redelik konstant gebly. Omdat Meatco weer in staat is om produsente wat daar geslag het, te betaal, is daar kontant in bedryf. Dit behoort veilingspryse te ondersteun,” meen Venter.

Klein sê die aanbod by veilings kan in die komende week laer wees omdat produsente diere terughou in afwagting van die gebeure in Suid-Afrika.

“Dit kan ook prysverligting bring deurdat die laer aanbod verhoed dat pryse te veel daal.”

Hy sê die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) het die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, versoek om met sy Suid-Afrikaanse eweknie, me. Thoko Didiza, in gesprek te tree en vas te stel of Namibië nie toegelaat kan word om ondanks die verbod wel speenkalwers in geseëlde vragmotors tot by voerkrale te vervoer nie.

Volgens Venter hou Namibiese speenkalwers afkomstig uit die bek-en-klouseer-vrye boerderygebiede suid van die veterinêre kordonheining, nie ‘n bedreiging vir Suid-Afrika in nie. Hy sê die direktoraat veeartsenydienste (DVS) seël in elk geval die vragmotors waarop die speenkalwers vervoer word en reik die nodige gesondheidsertifikate uit.

Schlettwein sê die Namibiese veterinêre owerheid was met Suid-Afrika in gesprek en het die situasie verduidelik. Volgens hulle geld die verbod vir alle beeste, ook dié uit Namibië. Hy sê die kans dat dit sal verander, is baie skraal.

“Beeste van hier af hou nie as sodanig ‘n risiko vir Suid-Afrika in nie, maar beeste by van die voerkrale daar is met die virus besmet,” sê hy.

Schlettwein sê dit is belangrik dat Suid-Afrika in die 21 dae die verdere verspreiding van die siekte voorkom en dit onder beheer bring.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.