Swendelaars sak glo die afgelope maande op die landbougemeenskap toe en kom telkemale met slim planne vorendag om boere uit hul hard verdiende geld te probeer bedrieg.

In die jongste voorval het swendelaars ’n boer probeer teiken deur te beweer van sy gesteelde beeste is teruggevind.

Me. Mariette Louw waarsku op die Facebook-blad “Scammers in Namibia” dat die swendelaars haar buurman probeer teiken het.

Die “polisie” het hom gebel en gesê sy beeste is gesteel en hulle het na bewering beslag op die beeste gelê.

“Die swendelaars ken almal wie hulle behoort te ken, gebruik die regte polisie-inspekteurs se name en ken ook die polisie-range by die onderskeie polisiekantore.

“Dan, ná ’n hele dag se heen en weer, soek hulle N$2 500 se ‘e-wallet’, dan sal die lorrie wat die beeste gesteel het, dit weer by jou kom aflaai, want die bestuurder het nie geweet hy koop gesteelde beeste nie,” waarsku sy.

Haar plasing is wyd versprei en op die Facebook-blad “Namibia Farming Community/Namibië Boeregemeenskap” waarsku me. Henriette Le Grange ook dat mense “versigtig moet wees en niemand moet vertrou nie.”

Sy vertel van ‘n bekende verdagte wat homself glo soms voordoen as ene “hoofspeur.insp. Victor”. Oor die algemeen glo mense die swendelaars gebruik vals identiteite.

GOED GEORGANISEERD

‘n Wetstoepasser het vertroulik aan Republikein gesê dié tipe swendelary is ‘n ernstige probleem in Namibië en bestaan uit goed georganiseerde netwerke.

“In sommige gevalle werk hulle uit die tronke uit,” is gesê.

Dit blyk ook dat die swendelaars deesdae veral van sosialemediaplatforms gebruik maak om inligting en potensiële slagoffers te soek.

Hulle is goed ingelig voor hulle potensiële slagoffers kontak, praat uitstekende Afrikaans, is in netwerke georganiseerd en ken soms self die persoonlike besonderhede van hul slagoffers, blyk dit uit onderhoude met mense wat geteiken is.

In verskeie voorvalle is mense geteiken nadat hulle op Facebook na produkte gesoek of navrae gedoen het.

In sommige gevalle “reageer” hulle op navrae op sosialemediaplatforms. Andersins misbruik hulle die identiteit van bekende mense wat gereeld goedere verkoop of die name van bekende ondernemings om mense van hul geld te beroof.

Abenab Slaglam Boeredag het ook verlede week ‘n kennisgewing op hul Facebook-blad geplaas om mense te waarsku dat hulle geen verwantskap met “Abenab slaglam boerdery” het of ene “Jakobus de Klerk” nie.

“Indien iemand jou kontak via die bogenoemde ‘Abenab slaglam boerdery’ is die bedoeling waarskynlik om jou geld te steel,” is gewaarsku. Daar is bygevoeg die polisie is opsoek na die persone wat hierby betrokke is.

In nog ’n voorval het die swendelaars voorgegee om ’n “pyp en tenk-onderneming” Chris Tanks & Pipes op Gobabis te besit en mense probeer inloop.

Republikein het verneem van nog ’n voorval waar iemand hom voordoen as ’n boer wat beeste wil verkoop en waar slagoffers eindelik vir beeste betaal wat nie bestaan nie.

In ’n ander voorval het ’n “polisieman” ’n vroueboer geskakel en indieptekennis van haar persoonlike sake gehad en dit teen haar gebruik om haar te intimideer.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.