“Die ministerie het geen voorneme om enige besigheid uit die mark te druk nie. Trouens die ministerie sal altyd die groei en belange van klein besighede bevorder, ongeag waar hulle in die land geleë is.”

Só het die adjunkminister van myne en energie, me. Kornelia Shilunga, gister op vrae gereageer wat Republikein aan haar gerig het.

Sy sê die ministerie ondersteun kleinhandelaars in die brandstofbedryf en voorspel ’n blink toekoms vir al die ondernemings ongeag hul grootte.

Shilunga het aan die begin van die week met vulstasie-eienaars en verteenwoordigers van die Brandstof en Franchisevereniging (Fafa) vergader om dié bedryf se ontevredenheid oor winsmarge te bespreek.

Volgens mnr. Hennie Krüger, voorsitter van Fafa, is die winsmarge wat deur die ministerie gereguleer word nie gepas nie.

Shilunga sê egter “die dilemma wat die ministerie in die gesig staar, is dat die enigste manier waarop handelaars se marges kan verbeter, is deur die brandstofverbruiker slegter daaraan toe te maak.”

Sy sê die ministerie wil winsmarges verbeter, maar tydsberekening en markomstandighede moet ideaal wees om verbruikers ook teen hoë brandstofpryse wat onbekostigbaar raak, te beskerm.

Rakende die aanpassing van winsmarge, het sy bloot gesê die ministerie glo die benadering wat op algemene inflasie gebaseer is, is gepas.

Shilunga het ook nie ’n rede verskaf hoekom die vorige praktyk opgeskort is om wins eers ná behoorlike ontleding van insetkoste aan te pas nie.

Onderhandeling tussen die ministerie en grootmaat-brandstofverskaffers, sê sy gaan op ’n voortgesette basis voort.

“Die ministerie is altyd bereid om nuwe idees, wat daarop gemik is om die bestaande regulasies te versterk, te oorweeg. Sodra dit oorweeg en goedgekeur is, word die regulasies dan bygewerk en aangeneem,” sê sy.

Die ministerie onderhandel onder meer met die Bank of Namibia (BoN) oor banktariewe op krediet- en debietkaarttransaksies vir brandstof, voeg sy by.

Ten opsigte van die toename in die deelname van grootmaat-invoerders in die plaaslike kleinhandelbedryf, sê sy “die rol van brandstofgroothandelaars is reeds breedvoerig in die regulasies van petroleumprodukte van 2000 omskryf. Die ministerie onderskryf slegs daardie rolle soos omskryf in dié regulasies”.

Kommer oor die uitbreiding van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) in die brandstofkleinhandel is volgens haar nie weens enige voorkeur wat die ministerie mag hê nie.

“Die ministerie beskou Namcor soos enige ander oliemaatskappy wat ’n lisensie ontvang. Namcor ontvang geen spesiale behandeling van die ministerie nie en moet aan dieselfde regulasies en prosesse as almal voldoen,” dring sy aan.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.