Van links is mnr. Mushokabanji Mwilima, Meatco se uitvoerende hoof, by die uitvoerende bestuurslede van die Namibië Landbou-unie, mnre. Martin Hilbert, Piet Gouws en Thinus Pretorius. Foto Meatco

Bekommerde beesvleisprodusente behoort binnekort by ’n tegniese vergadering “deursigtige antwoorde” oor die finansiële volhoubaarheid van Meatco, die land se grootste vleisverwerker en uitvoerder van beesvleis te kry.

Laasgenoemde het verlede week ingestem om inligting te verskaf oor sy sakeplan, enorme skuldlas, sy bedryfskoste en die inkomste wat hy uit verkope in internasionale markte verdien.

Dit volg nadat die bestuur van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en die Namibië Landbou-unie (NLU) verlede week met die bestuur van Meatco oor sy benarde finansiële situasie en toekomsplanne gesels het.

’n Onafhanklike geoktrooieerde rekenmeester, mnr. Rainer Ritter, het op 3 Februarie in ’n verslag aan die vleisbedryf daarop gewys die verwagting is dat Meatco in die 2021-’22-boekjaar ’n verlies van sowat N$155 miljoen sal ly. Verder word verwag die ouditeurs se gekwalifiseerde mening sal wees dit is nie meer ’n lopende saak nie.

Hy wys in sy verslag daarop Meatco se kontantvloei was reeds in 2021 geweldig onder druk en dit sal vanaf Mei vanjaar erger word wanneer hy sy skuld by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) moet begin delg.

Meatco het die afgelope jare verskeie lenings by DBN aangegaan. Eers N$100 miljoen vir sy voerkrale, toe N$50 miljoen om beeste aan te koop en in 2020 het Meatco ’n verdere N$250 miljoen by DBN geleen waarvoor die regering ’n waarborg verskaf het, sê ’n ingeligte bron. Laasgenoemde bedrag was onder meer om sy skuld by handelsbanke af te los.

Republikein het betroubaar verneem Meatco se bestuur het onlangs by die tesourie bakhand gaan staan vir finansiële hulp van meer as N$100 miljoen om sy kontantvloei-situasie te verbeter.

Mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), het by navraag gesê die tesourie sal nie vir hulle geld óf ’n waarborg gee nie, “tensy hulle natuurlik met ’n lewensvatbare sakeplan vorendag kan kom”. Hy sê so ’n plan sal die vertroue moet skep dat hulle “’n tasbare strategie het wat kommersiële volhoubaarheid sal herstel”.

Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die LPO, sê hoewel produsente bly is oor die goeie pryse wat Meatco op die oomblik betaal, is hulle baie bekommerd oor die volhoubaarheid daarvan. Hy sê hulle wil ook die meganisme verstaan wat gebruik word om produsentepryse vas te stel.

PRODUSENTEPRYS

Die gemiddelde produsenteprys het in 2021 met 25,3% gestyg, toon Ritter se verslag. Hy wys daarop die rede vir die hoë pryse is die prysoorlog tussen Meatco en Beefcor, die abattoir op Okahandja. Dit sal na verwagting voortduur tot Meatco se kontantvloei hom dwing om dit heroorweeg, of tot hy daarin kan slaag om meer bedryfskapitaal geleen te kry, sê Ritter.

“N$63 per kilogram is ’n uitstekende prys, maar ons as produsente moet bemarkingsekerheid oor die lang termyn hê. Daarom wou ons by Meatco weet hoe volhoubaar hierdie prys is,” sê Pretorius met verwysing na die rekordhoë prys wat onlangs aangebied is. Dit het intussen teruggesak tot N$59 en N$58 per kilogram, afhangend van die gradering van die karkas.

Pretorius sê volgens inligting beloop Meatco se verlies teen dié hoë produsentepryse tans meer as N$1 000 per karkas.

“Die volhoubaarheid van die beesuitvoerwaardeketting is kernbelangrik vir stabiliteit in die bedryf,” hy tydens die besoek aan Meatco benadruk.

Hy het die volhoubaarheid van die pryse tans bevraagteken en gesê dis nie in pas met die bedryfskoste en hoeveelheid slagbeeste wat vir 2022 beskikbaar is, óf die pryse wat in internasionale markte betaal word nie.

Volgens hom het die LPO het reeds twee jaar gelede ’n gesprek met Meatco oor sy finansiële posisie versoek.

“Die LPO is bly dat Meatco hierdie versoek nou toegestaan het. Om die volhoubaarheid te verstaan, sal hierdie tegniese vergadering deursigtige antwoorde moet verskaf oor die huidige sakeplan, skuldposisie, bedryfskoste en inkomste-realisasie in internasionale markte,” sê hy.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.