Namibiese beesboere het in totaal ʼn indrukwekkende N$146 miljoen in die beplande Savanna Beef Processors (SBP) belê en dus self sowat 73% van die beskikbare N$200 miljoen se aandele opgekoop.

Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) het vandag (Vrydag 1 Julie) in ʼn mediaverklaring gesê hulle beskou hierdie as ʼn “reuse-sukses, gegewe die aanvanklike teiken van om N$100 miljoen van produsente in te samel.”

Hy het gesê altesaam 549 beesprodusente het in die beplande uitvoer-abattoir belê.

“Die volgende stap is om die res van die fondse in te samel om die teiken van N$200 000 te bereik. Tans is die SBP-raad besig om ʼn strategie te ontwikkel om die orige N$54 miljoen in te samel – moontlik deur ʼn tweede rondte vir beleggings in die tweede helfte van 2022,” het hy gesê.

“Tot op hede het die projek, wat ʼn produsent-gedrewe inisiatief is, wye en ongekende ondersteuning uit die Namibiese beesboerdery gemeenskap ontvang, met die insamelingsproses van kapitaal wat die laaste weke van die eerste rondte momentum begin kry het . . .” het Schneider gesê.

Die eerste beleggersrondte het van 24 April tot 24 Junie geduur waartydens Cirrus Capital en lede van die BVCF se taakspan landswyd gereis het om die projek se beleggingstrategie asook sakeplan aan beesboere bekend te stel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.