Namibië het sy beste beginkwartaal sedert 2018 agter die rug met die ekonomie wat in die eerste drie maande vanjaar met 5,3% gegroei het.

Dit is die eerste keer sedert 2018 dat die ekonomie nie negatiewe groeisyfers uitspoeg nie. In 2019 was groei in die eerste kwartaal -4,3%, gevolg deur -2,7% die volgende jaar en -4,9% in 2021.

Syfers wat gister deur die Namibiese Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon die land se ekonomie het vir die vierde opeenvolgende kwartaal positief gegroei. Dié syfers kom egter van ‘n lae basis af gegewe die slag wat die resessie en die Covid-19-pandemie die ekonomie toegedien het.

Die 5,3%-groei van die eerste kwartaal is steeds veel laer as die ooreenstemmende piek van 8,2% in die eerste drie maande van 2015.

In reële terme het sowat N$33,99 miljard in die eerste kwartaal vanjaar deur die ekonomie gevloei, ongeveer N$1,7 miljard méér as in dieselfde drie maande in 2021. In die eerste kwartaal van 2015 was Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) bykans N$35,6 miljard. Die grootste kwartaallikse BBP op die NSA se herbaseerde rekords wat tot 2013 terugstrek, is sowat N$37,4 miljard.

KLIPPIES EN KIE

Die jongste syfers toon groei is hoofsaaklik deur mynbou, gesondheid, vervaardiging, asook vervoer en berging aangevuur.

Mynbou het met 23,5% in die eerste kwartaal gegroei, ‘n reuseverbetering van die -19,1% in die ooreenstemmende tydperk in 2021.

Dié sektor het die vorige twee kwartale ook spiere gebult: Groei van 49,6% is in die derde kwartaal verlede jaar behaal, gevolg deur 30,7% in die laaste een.

In reële terme het mynbou in die eerste kwartaal vanjaar bykans N$3,7 miljard tot die BBP bygedra. Dié sektor se blink bydrae is danksy diamante wat met groei van 34,6% geskitter het. In dieselfde kwartaal in 2021 het dié subsektor groei van -34,4% aangeteken.

Vervaardiging het in die oorsigtydperk met 7,5% gegroei ná -18,1% in die eerste kwartaal van 2021. Dié sektor se jongste BBP-bydrae in reële terme was bykans N$3,6 miljard. Veral drank en koeldrank het vir dié skop gesorg deur met 25,5% teenoor -17,9% te groei.

Hoewel hul bydrae tot die BBP heelwat kleiner is, het gesondheid met groei van 1,5% in die vierde kwartaal in 2021 tot 8,9% herstel. Vervoer en berging het van 3,9% tot 6,3% versnel. Dié twee sektore het onderskeidelik N$1,7 miljard en N$1,1 miljard tot die BBP bygedra.

VERBRUIKER

Groot- en kleinhandel, een van die swaargewigte in die BBP, het gesukkel en die laagste groei in ‘n jaar aangeteken.

Met skrale groei van een persent was dié sektor se vertoning darem beter as die -4,7% in die eerste kwartaal van 2021 en het dit nietemin sowat N$3,1 miljard tot die BBP bygedra.

Met groei van -7,5% het konstruksie ook kleigetrap. In die eerste kwartaal van 2021 het dit met -2,9% gegroei. Uit die 25 kwartale sedert 2016 het dié sektor net in vyf positiewe groei getoon. Konstruksie se jongste BBP-bydrae was N$609 miljoen teenoor die meer as N$2 miljard per kwartaal wat in 2015 behaal is.

Hotelle en restaurante, ‘n aanwyser vir die stand van toerisme, het met 4,4% gegroei vergeleke met -8,7% in die eerste kwartaal van 2021. Dit is die vierde opeenvolgende kwartaal van positiewe groei in dié sektor. Dié stemmige vertoning is danksy hotelle en restaurante wat groei van 2,6% en 6,5% onderskeidelik aangeteken het. Die sektor se jongste BBP-bydrae was N$542 miljoen.

LANDBOU EN VERVOER

Groei in die landbou- en bosbousektor was 5,9% teenoor -2,9% ‘n jaar gelede en die BBP-bydrae was bykans N$1,02 miljard.

Volgens die NSA is 27,8% méér beeste aan uitvoerabattoirs en slagters voorsien as in die eerste kwartaal van 2021, terwyl beeste wat lewend na Suid-Afrika en Angola uitgevoer is, met 13% gestyg het. Die uitvoer van kleinvee op die hoef was 56,3% hoër.

Vervoer en berging het met 6,3% gegroei (2021: -5,1%) en bykans N$1,1 miljard tot die BBP bygedra. Volgens die NSA het lugvervoer met 105,7% toegeneem.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.