Suid-Afrika het besluit om nie hul landswye verbod op die verskuiwing van beeste te verleng nie, terwyl plaaslike kenners maan dat Namibië nou “langtermyn” moet dink en sorg dat die nodige protokol in plek kom.

Suid-Afrika se verbod is sowat drie weke gelede ingestel om die verspreiding van bek-en-klouseer in dié land te beheer.

Die verbod het daartoe gelei dat Namibië se ministerie van landbou, water en grondhervorming nuwe maatreëls ingestel het wat die uitvoer van lewende beeste van Namibië na Suid-Afrika beperk – tot verdere kennisgewing.

Die ministerie se woordvoerder, Jona Musheko, het gister gesê dat hulle die gebeure in Suid-Afrika dophou en die publiek so gou as moontlik sal inlig as hul besluit oor die beperking op beesuitvoere hersien word.

Volgens die voorsitter van die Lewendehawe Produsente-organisasie (LPO), mnr. Thinus Pretorius, is daar nog baie onsekerheid oor wat nou “weer oop” is en wat nie. Hy het verduidelik Namibië het tans ‘n uitvoerverbod in plek, wat nie gelig sal word voor al die protokol nie in plek is nie.

“Ons moet langtermyn dink. Tans word die biosekuriteitsituasie rondom Namibië bevraagteken en daarom is dit nodig dat ons ons protokol in plek moet kry. Dit is daar – in teorie – maar word dit toegepas?”

Implementering sal volgens Pretorius maande neem en mense sal daarin opgelei moet word. As voorbeeld het hy genoem voertuie sal by alle grensposte heeltemal gesteriliseer behoort te word. “Ons moet langtermyn dink en ons bek-en-klouseer vrye status beskerm,” sê hy.

Volgens mnr. Wallie Roux, onafhanklike landbounavorser, kan speenkalwers byvoorbeeld nou weer in beginsel na SA uitgevoer word, maar dit moet nog met die buurland uitgeklaar word. Hoewel SA sê sy uitbreking is nou onder beheer, bestaan daar vrae oor die land se veeartsenykundige bestuursvermoëns.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.