Namibië het ’n krisis op hande met ’n reusetekort aan teengif vir slangbyte wat nie net plaaslik nie, maar ook in die res van Suider-Afrika ondervind word.
Volgens Francois Theart, een van die voorste slangkenners in die land, is geen voorraad by die vervaardigers in Suid-Afrika beskikbaar en ook geen aanduiding wanneer die situasie gaan verander nie.
Selfs al was daar nie ’n probleem met voorraad in die buurland nie, sê Theart sou daar steeds ’n probleem in terme van permitte wees.
Die teengif vir slangbyte word deur South African Vaccine Producers (SAVP) vervaardig wat volgens hom nie genoeg teengif het nie. SAVP voorsien ook teengif aan ander Afrikalande.
“Hulle is heeltemal uit voorraad, alles is weg.”
Namibië se tekort aan teengif kom “al vir baie jare”, sê Theart.
Hy het beklemtoon die probleem lê ook nie net by tekorte nie, maar ook die permit wat die vervaardiger moet hê om dit na Namibië te kan uitvoer.
Hy het verwys na die Namibiese Medisynebeheerraad wat sekere vereistes vir die invoer en registrasie van medikasie vereis. Dit sluit in Goeie Vervaardigingspraktyke (GMP) en dat die vervaardiger met betrekking tot die vervaardiging, toetsing, verspreiding, verkope of invoer van medisyne hieraan moet voldoen.
“Die GMP is die papierwerk en permit wat ons medisyneraad vereis om dit te evalueer en vir invoer goed te keur. SAVP moet hierdie permit aanheg, voordat hulle dit vir ons medisynebeheerraad stuur. Die ‘red tape’ is ’n groot probleem.”
Volgens Theart is die situasie “baie kompleks”. Daar was voorraad in die land, maar die meerderheid het reeds verval.
Hy het verduidelik jy kry twee verskillende tipes teengif naamlik polyvalent en monovalent. Eersgenoemde help vir tien slangspesies wat nie een spesifieke teengif vereis nie, terwyl laasgenoemde spesiaal vir die boomslang is.
Met verwysing na die behandeling van ’n slangbyt, sê Theart ’n pasiënt sal “’n klomp ampules nodig hê ná ’n byt”.
“Vir ’n pofadder begin dit met vyf tot ses ampules en vir ’n mamba agt. Help dít nie, moet die pasiënt uurliks nog ’n ampule kry totdat die persoon beter raak en jy ’n verbetering kan sien.”
Vir Namibië om self teengif te vervaardig, is ook nie so eenvoudig nie.
“Jy het miljoene nodig, mense verstaan nie altyd die kompleksiteit om dit te vervaardig nie.”
Slangbyte kan nou grootliks “simptomaties” behandel word, met nasionale slangprotokolle wat in plek is. Hy het gemaan die slangseisoen is nog nie verby nie.
“Ons is nog besig en hardloop nog rond om slange te vang!”
Hy het beklemtoon die huidige krisis het “niks met slange te doen nie” en is nie weens ’n styging in slangbyte nie, maar bloot ’n kwessie dat baie van die voorraad teengif verval het of gebruik is.
’n Ondersoek is reeds van stapel gestuur en is ver gevorder om na ’n vervaardiger buiten SAVP en in die buiteland te kyk wat volgens Theart ’n goeie rekord het.
Volgens hom is die ideaal ook om ’n teengifbank in Namibië te begin wat genoeg voorraad beskikbaar sal hê.
Weens die huidige tekort het hy beklemtoon “sal ons baie versigtig moet wees hoe ons die beperkte voorraad gebruik. Ek kan nie sien hoe ons die oorblywende voorraad op diere gebruik nie.”
Theart het gemaan talle mense word gebyt wanneer hulle probeer om slange te vang of dood te maak.
“Maak eerder gebruik van die gratis dienste beskikbaar wat net ’n oproep weg is.”
[Bron – Republikein]