Huldeblyke stroom sedert Saterdag op sosiale media in nadat dit bekend geword het mnr. Gidion (Biggi) Human (38), ’n lid van die motorfietsryers-groep Desert Mustangs, is dood toe ’n polisievoertuig tydens ’n ren op die Gobabis-Leonardville-pad glo voor hom ingedraai het.

Human, in motorfietskringe ook bekend as The Legend, was in die mynboubedryf en het by die Otjihase-myn gewoon.

Sy ma, me. Elsa Maye, het gister vanaf Uis waar sy en sy stiefpa, mnr. Günther Maye woon, gesê hy was ’n gesoute motorfietsryer wat al sedert sy matriekjaar motorfiets ry.

“Ek kan vir niemand die gevoel verduidelik nie,” sê sy oor die skok van haar jongste seun se dood.

“Hy was ’n spontane mens wat sy alles gegee het vir ander. . . Hy sou sy onderbroek uitgetrek het om sy medemens te help,” het sy bewoë vertel.

“Hy was die hart van daardie groep (Desert Mustangs),” sê sy.

Maye het gister op Facebook ’n beroep gedoen op mense wat die motorfietsrren bygewoon het, “om inligting, foto’s of video’s” aan haar beskikbaar te stel sodat sy kan verstaan presies hoe die ongeluk gebeur het.

“Ek wil uitsluitsel hê oor wat presies gebeur het, sodat ek berusting kan vind,” het sy gister gesê.

Volgens haar blyk dit die polisiebeampte wat moes help om die roete vir die motorfietsryers en ander padgebruikers te beveilig, het ‘n U-draai in die pad gemaak waarna Human in die polisievoertuig vasgery het.

Mnr. Sean Naudé van die Namibia Marshall Rangers sê die beampte is beseer en moes per ambulans na die staatshospitaal op Gobabis vervoer word.

Human laat benewens sy ma, ook sy vrou Mary-Jane, hul seun, AJ, sy ouer broer, mnr. Johan Human en sy stiefpa, mnr. Günther May agter.

Volgens Maye word ’n verassingsdiens voorlopig vir 14 Mei by die kapel in die Gammams-begraafplaas beplan.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.