Volgens ‘n parlementêre paneel se bevinding het President Cyril Ramaphosa moontlik die wet oortree met betrekking tot sy ‘amptelike pligte en sy privaat besigheid’. Sy politieke loopbaan hang in die weegskaal nadat ‘n dringende vergadering deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee vir vandag geroep is.

“Die president, as die staatshoof en hoof van die uitvoerende tak van die regering, moet die publiek se vertroue behou. Daar word van hom verwag om “die Grondwet as die hoogste wet van die Republiek te handhaaf, te verdedig en te respekteer. Hy lê ‘n eed af om “getrou te wees aan die Republiek”, en om “die Grondwet en alle ander wette van die Republiek te gehoorsaam, te onderhou en te handhaaf.” Gedagtig aan die feilbaarheid van die menslike natuur en dat te veel mag korrupteer, het die Grondwet onder andere voorsorgmaatreëls met ‘n ingeboude veiligheidsklep: die proses van beskuldiging en verwydering uit die amp.” – Só lui die onafhanklike paneelverslag deur die artikel 89-paneel.

Die artikel 89-paneel, onder voorsitterskap van die afgetrede hoofregter, Sandile Ngcobo, het ‘n volledige verslag gister aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, oorhandig. Mapisa-Nqakula het die paneel aangestel.

Verskeie bekommernisse word in die verslag vervat en daar is talle onbeantwoorde vrae. Een van hulle is hoekom daar tot dusver geen diefstalklag aanhangig gemaak is teen die mense wat die geld gesteel het nie. ‘n Ander is hoekom die geld nooit gebank was nie.

Die verslag lui verder dat “die inligting wat deur die president oor die berging van die geld aangebied word, vaag is en ontstellende leemtes laat.”

Die paneel se gevolgtrekkinge was dat die inligting wat hy ontvang het prima facie bewyse bevat dat Ramaphosa moontlik ‘n ernstige oortreding van die Grondwet en die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (Precca) sowel as ernstige wangedrag gepleeg het “deur op ‘n manier op te tree wat teenstrydig is met sy amp” en “homself bloot te stel aan ’n situasie wat ’n konflik tussen sy amptelike verantwoordelikhede en sy private besigheid behels”.

Ook dat daar prima facie-bewyse is van “’n opsetlike voorneme om nie die pleging van die misdade wat by Phala Phala gepleeg is openlik te ondersoek nie”, dat daar “vrae is oor die werklike bron van die gesteelde geld”, dat die “Namibiese president se hulp ingeroep is om die saak met diskressie te hanteer, wat ‘n bewys is dat president Ramaphosa sy posisie as staatshoof misbruik het,” en dat daar “meer buitelandse valuta in die rusbank versteek was as die bedrag wat in die ontvangserkenning weerspieël is”.

Ramphosa is deur die UDM, EFF en ATM beskuldig dat hy die Grondwet en die Wet op Uitvoerende Etiek en Kode oortree het deur sakebelange te hê terwyl hy ‘n lid van die Kabinet was.

Ramaphosa ontken dat dit die geval was aangesien hy, volgens hom, nie by die besigheid gewerk het of enige finansiële voordeel daaruit getrek het nie.

Die paneel het egter bevind dat Ramaphosa artikel 96 (2) (a) van die Grondwet oortree het deur sy direkte betrokkenheid by die bestuur van Ntaba Nyoni, wat Phala Phala bedryf. “Die feit dat die president verkooptransaksies goedkeur, opdrag kan gee oor hoe om kontantverkope te bestuur en potensiële kopers te bespreek, dui sterk daarop dat hy toesig hou oor bedrywighede in die besigheid.”

Die paneel het ook bevind dat Ramaphosa moontlik skuldig is aan ernstige wangedrag deur die bepalings van artikel 96(2)(b) te oortree oor die opdrag van generaal-majoor Wally Rhoode om die Phala Phala-diefstal te hanteer.

Die verslag het ook bevind dat Rapahosa verplig was om die huisbraak en diefstal aan die Valke in terme van Precca aan te meld aangesien dit by sy private woning gebeur het en die bedrag wat gesteel was, meer as R100 000 was.

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.