In ’n verslag wat aan die speaker van Suid-Afrika se Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa- Nqakula, voorgelê is, word uitgelig tot watter mate president Hage Geingob bygedra het tot die vastrek van ’n verdagte wat geld van sy eweknie Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gesteel het.

Die uitgelekte verslag is aan Mapisa-Nqakula oorhandig om te bepaal of daar enige grond is waarop Ramaphosa aangekla kan word.

Die voortslepende sage is die nadraai van bewerings deur die gewese Suid-Afrikaanse spioenbaas, Arthur Fraser, dat hy meer as US$500 000 op sy wildplaas gehou en glo gelieg het oor die oorsprong daarvan.

Volgens die verslag is bevind dat Ramaphosa moontlik die grondwet oortree het ten opsigte van betaalde werk. Die paneel het ook bevind dat hy moontlik die wet op die voorkoming en bekamping van korrupte aktiwiteite oortree het omdat hy nie die diefstal direk by die polisie aangemeld het nie.

Ramaphosa het glo sy voormalige sekuriteitsbaas Wally Rhoode beveel om die diefstal op sy plaas te ondersoek sonder om amptelike polisiëringskanale te volg.

Die staatshoof het ook na bewering op ’n wyse opgetree wat strydig was met sy amp en hy het homself glo blootgestel aan ’n situasie waarin sy amptelike verantwoordelikhede met sy private besigheid gebots het.

NAMIBIESE OWERHEDE SE HULP

Die verslag lui dat bewyse bestaan dat Rhoode en sy span hulp van die Namibiese polisie ontvang het.

“Ons is tevrede dat die Suid-Afrikaanse owerhede wat die Namibiese polisie by die ‘niemandsland’ ontmoet het, die span was wat die inbraak en diefstal by Phala Phala ondersoek het,” lui die verslag.

Die verslag dui daarop dat Ramaphosa voortdurend die hulp van Geingob ingewin het.

“President Ramaphosa het die president van Namibië versoek om te help met die aankeer van mnr. Imanuwela David, wat glo die brein agter die huisinbraak en diefstal was,” lui dit.

Volgens die verslag het ’n beampte van die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) met die kommissaris van ’n spesiale eenheid van die Namibiese polisie in die niemandsland by Ariamsvlei vergader.

Tydens dié ontmoeting het die SAPD-beampte na bewering inligting aan die Namibiese polisie verskaf rakende die huisinbraak en diefstal op die plaas wat glo bevestig dat David, vir wie die Namibiese polisie destyds in hegtenis geneem het, daarvoor verantwoordelik was.

DIEFSTAL ’N GEHEIM GEHOU

Die verslag het opgemerk dat Ramaphosa nie die diefstal van die geld wat op sy plaas versteek was, aangemeld het nie omdat hy glo die saak vertroulik wou hou.

“Hierdie misdaad is nie by die SAPD in Bela Bela, Limpopo, waar die plaas geleë is, aangemeld nie. Gevolglik was daar geen saaknommer of dossier met betrekking tot hierdie misdaad aangeteken nie. Daar was ’n doelbewuste besluit om die ondersoek geheim te hou,” lui die verslag.

Die verslag het onder die loep gebring hoe David, wat glo die meesterbrein agter die beweerde diefstalvoorval is, erken het dat hy US$800 000 gesteel het, maar nooit aangehou is nie.

“Dit bly ’n ontstellende aspek van Rhoode en sy span se ondersoek dat daar by die president se private woning ingebreek is en ’n onverklaarde bedrag in Amerikaanse dollar, waarskynlik meer as US$580 000 gesteel is; ’n verdagte aangehou en ondervra is en beken het dat hy sowat US$800 000 gesteel het en nogtans is niemand skuldig bevind aan hierdie misdaad nie,” lui die verslag.

Die koerant het pogings aangewend om deur die presidensiële woordvoerder, mnr. Alfredo Hengari, na Geingob se kantoor uit te reik, maar geen antwoorde is verskaf nie.

Ramaphosa se kantoor het verklaar dat hy hom wel nog oor die saak sal uitspreek.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.