Meatco se verminderde uitvoere na Noorweë asook ’n lae bruto wins oor die afgelope twee jaar is moontlike redes vir die swak betalings aan beesprodusente.

Dit is die mening van Rainer Ritter, ’n onafhanklike ontleder en voormalige uitvoerende hoof van die Namibiese Regulatoriese Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa).

Dit kom nadat Meatco die afgelope Dinsdag in ’n mediaverklaring gesê het hy het agter geraak met betalings aan beesprodusente weens hoë slagvolumes wat weens die droogte hanteer moes word, asook oor veranderinge in logistieke dokumentasie en prosedures. Dit alles het tot ’n gebrek aan kontantvloei gelei, het die vleisfabriek gesê.

Ritter het egter Dinsdag in ’n e-pos aan Meatco se uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, gesê hierdie verskonings kan nie geldig wees nie.

“Dit is duidelik dat die kontantvloeiprobleme by Meatco die gevolg van wanbestuur is en die mediaverklaring met sy verskonings is ’n wanvoorstelling en belediging vir produsente,” voer hy aan. Hy sê produsente is “ongelukkig reg” as hulle die regering se hulp vra om ’n nuwe, bevoegde bestuurspan aan te stel om die finansiële- en bemarkingsbestuur van Meatco weer op koers te kry.

Produsente het vroeër vandeesweek ’n dringende beroep op die regering gedoen om hulle hande te neem om ’n nuwe, bevoegde bestuur vir Meatco aan te stel. Dit kom terwyl Meatco hulle tans tussen N$300 miljoen en N$350 miljoen skuld.

Meatco het egter Dinsdag in ’n mediaverklaring hierop gereageer en gesê die maatskappy is besig om die agterstand in betalings in te haal en bygevoeg die feit dat hy vinnig aanpas by streng markvereistes is ’n bewys dat Meatco wel oor ’n bevoegde en funksionele bestuurspan beskik.

Ritter verskil egter hiervan en het sy e-pos ook aan die minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi; Calle Schlettwein, die minister van landbou, water en grondhervorming; dr. John Steytler, die uitvoerende hoof van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN); Babara Dreyer, die ondervoorsitter van die Meatco-raad en die Namibië Landbou-unie (NLU) gestuur.

VOLUMES

Ritter sê Meatco dui aan dat hy vanjaar 53 820 beeste geslag het, terwyl die maatskappy tydens 2019 se droogte “116 304 beeste geslag het en op tyd kon betaal”.

“Die hoë volume-redenasie is dus ’n swak verskoning,” meen hy.

Hy aanvaar ook nie dat veranderinge in logistieke dokumentasie en prosedures die vertragings veroorsaak het nie, “want Beefcor in Okahandja voer ook beesvleis uit na Noorweë en die Europese Unie en het nie enige vertragings ervaar nie én het produsente binne die ooreengekome tydperke betaal”.

Ritter sê ook Meatco het meer as dertig jaar se ervaring in uitvoere en om dié rede kan hierdie nie meer ’n verskoning wees nie.

“Hierdie . . . is slegs ’n manifestasie van swak bestuur of is ’n ‘vals verskoning’ met die doel om die werklike probleme weg te steek,” meen hy. Hy voeg by dat dit ’n “onverskoonbare gewoonte” vir Meatco geraak het om beesprodusente laat te betaal.

REDES

Ritter meen Meatco se kansellasie van die ooreenkoms met die Noorweegse samwerkingsvennoot en vleishandelaar, Global Protein Solutions (GPS) in April, is een van die struikelblokke is. Terwyl Noorweë die beste pryse vir Namibiese vleis betaal, kon Meatco reeds in 2022 nie daarin slaag om die kwota van 1 600 ton ten volle te benut nie. Hy verwag dat Meatco vanjaar selfs swakker hiermee sal vaar.

“Meatco se verminderde uitvoere na Noorweë kan ’n verduideliking wees vir die swak betalings aan beesprodusente. Sommige beesprodusente wag reeds 90 dae lank vir hulle geld en moes reeds verskeie verskonings vanaf Meatco aanhoor. Dieselfde het verlede jaar ook gebeur.”

WINS

Ritter voer aan die tweede rede is swak bruto winste oor die afgelope twee jaar. Dié gemiddeld staan op sowat 3,7% vir die afgelope drie boekjare – ver onder die internasionale maatstaf van 14%.

“Daar is drie redes vir die lae bruto winsmarge. Eerstens is daar swak bestuur in die verskaffingsketting, tweedens die swak pryse wat in Noorweë en Europa behaal is en derdens Meatco se prysbeleid.” Ritter het dit met Beefcor se prysbeleid vergelyk, wat pryse tussen Mei en September laat daal – wanneer die aanbod hoog is – en weer die pryse verhoog in maande wanneer die aanbod laag is.

“Meatco het geen aktiewe prysbeleid nie en dit het ’n negatiewe impak op bruto winste,” sê hy.

[Bron – Repubikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.