Die oostelike helfte van die land is opnuut die afgelope dae “voorgetrek” met reën. Sterk donderstormselle was Dinsdagaand op satellietbeelde van Eumetsat aan veral die oostekant van die land waarneembaar.

Op die plaas Menasse naby die Rietfontein-grenspos in die Kalahari is 160 mm reën in die bestek van 24 uur gemeet. Foto’s van damme water tussen die rooi sandduine is op die Facebook-blad van Kanaal 7 gedeel.

Water so ver soos die oog kan sien op die plaas Môrester van mnr. Frans Blaauw oos van Aroab, het ook op sosialemediaplatforms aandag getrek.

So ook ’n video van die Tsumisrivier suid van Rehoboth in vloed wat deur mnr. Ockert Theron op Reën in Namibia se Facebook-blad geplaas is.

NamWater het Dinsdagoggend eers die Nautedam (107,4% vol) se sluise getrek, gevolg deur dié van die Hardapdam 73%) kort daarna. Die Neckartaldam was eergister 101,7% vol en het oorgeloop.

Teen laat gister was dit oopgetrek oor die grootste deel van die land. Reën het wel nog in die verre suidoostelike deel van die land voorgekom, met voorspellings van swaar neerslae wat oor die noordelike dele van die Noord-Kaap sou uitsak.

Wat vandag se voorspelling betref, word enkele tot geïsoleerde donderbuie in die noordoostelike, oostelike en suidelike dele op plekke verwag.

Mnr. Johan van den Berg, landbou-weerkonsultant van Suid-Afrika, het vroeër aan Republikein gesê goeie neerslae word in die tweede helfte van Februarie oor Namibië verwag. – Ronelle Rademeyer

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.