“Daar bestaan ʼn persepsie of verwagting dat die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) ons probleme gaan oplos,” sê mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO).

Dit is ʼn broodnodige alternatief en is uit desperaatheid gebore, het hy egter verlede week in gesprek met Republikein verduidelik.

Pretorius sê ook dit is “jammer” dat N$120 miljoen se bedryfskapitaal nou gebruik moet word om in infrastruktuur te belê wat reeds bestaan – in die vorm van Meatco. “Dit weens die onvermoë van Meatco om goeie besigheid te doen.”

“In hierdie stadium kan ons nie sonder Meatco klaarkom nie. Hulle moet die grootste gros vleis, wat in meestal in die wintermaande van die jaar bemark word, wegwerk,” sê Pretorius. “Daar is nie ʼn private slagplaas wat dit kan doen nie – tot tyd en wyl alternatiewe in plek is nie.

“Moet ook nie dink die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) se abattoir gaan hierdie rol vervul nie. Hulle wil 50 000 beeste per jaar verslag, terwyl Namibië op ʼn jaarlikse basis oor sowat 100 000 tot 150 000 se uitvoergehalte bees beskik.

“Dit is die holistiese prentjie,” het Pretorius verduidelik.

AGTERSTALLIGE BETALINGS

Sowat twintig Meatco-produsente het hul geldsake met Republikein gedeel, op voorwaarde van anonimiteit.

Buiten vir tien produsente aan wie Meatco gesamentlik N$25,8 miljoen skuld wat vir langer as 30 dae agterstallig is (sien vandag se voorbladberig), het ander produsente aangedui dat Meatco hulle ook geld skuld, maar dat hulle tevrede is dat hulle betalings ontvang. Net drie het aangedui dat Meatco op datum met betalings aan hulle is.

“Meatco staan in die pad van vooruitgang in die land. Ons kan nie beeste verkoop en weer nuwes inkoop nie, alles ruk tot ʼn stilstand,” het een briesende produsent gesê. Hy en ander het ook aangedui dat hulle al begin het om hul slagbeurte by Meatco te kanselleer.

“Meatco doen geen moeite om ons slagtings te behou nie,” het een van hulle bygevoeg.

Nog ʼn produsent sê hy bemark reeds vir dekades lank al sy slagbeeste by Meatco, maar dat die agterstallige betalings besig is om sy produksie te belemmer.

“Die skriftelike kontraktuele ooreenkoms tussen die produsent en Meatco is dat betalings ná dertig dae moet geskied,” het hy gesê en bewyse gelewer dat bykans alle betalings aan hom eers ná 60 dae gemaak is. “Meatco betaal ook geen rente op die agterstallige geld nie, met ander woorde, hulle pleeg voortdurend kontrakbreuk.”

Ander het gesê die agterstallige betalings veroorsaak erge kontantvloei-probleme, terwyl talle sê die organisasie beantwoord nie korrespondensie en navrae oor uitstaande betalings nie. “Meatco kommunikeer glad nie met ons hieroor nie en die bestuur vra nie eers om verskoning vir sy probleme met laat betalings nie. Meatco verbreek aanhoudend sy ooreenkoms met produsente.”

PRYSE

Meatco se woordvoerder, me. Rosa Thobias, het in die korporasie se reaksie op Republikein se vrae benadruk die goeie pryse wat betaal word, geld nie net vir produsente wat beeste vir verslagting lewer nie, maar ook die wat diere aan hul voerkrale lewer en so “die aantal beeste wat die land as speenkalwers verlaat, verminder”.

“Dit is in lyn met die tuisgroeistrategie asook Namibië se nywerheidsbeleide,” het Thobias gesê.

Sy het bygevoeg dat, volgens alle aanwysers, die wêreldekonomie voor ʼn nuwe krisis staan, terwyl dit nog van die Covid-19-pandemie herstel. “Midde hierdie voortslepende ekonomiese uitdagings – wêreldwyd – moet Meatco rats en mededingend, winsgewend en volhoubaar bly.”

Sy het bygevoeg dat die grootste kwessie vir die plaaslike vleisbedryf bekostigbaarheid is, terwyl produksiekoste styg en verbruikers se besteebare inkomste krimp en hulle hul tot ander bronne van proteïen wend. Boonop blyk dit dat Namibiese beeste onlangs van sy markaandeel in terme van uitvoere na die Suid-Afrika aan Botswana moes afstaan, wat reeds ʼn negatiewe uitwerking op produsente se pryse by veilings gehad het.

POSITIWITEIT

Nie alle produsente is negatief oor die onderneming nie. Een produsent, aan wie daar ook een vrag beeste se geld geskuld word, voel Meatco is tans die instansie wat help dat Namibië se beesbedryf kan oorleef.

“Ek wil nie hê daar moet enige negatiwiteit oor Meatco wees nie, hulle doen die bes wat hul kan. Aan die einde van die dag is hulle die een wat prys in ons land bepaal.”

Summerdown se mnr. Ockert Steyn, wat ingestem het dat sy naam genome word, sê hy weet dat produsente hom dalk gaan stenig, maar hy is optimisties oor Meatco en het vertroue in die maatskappy.

“Ek is ‘n groot ‘Meatco-fan’. Hulle het vir my ʼn klomp geld geskuld en hulle is besig om hul rekening te vereffen. Hulle skuld wel nog baie, maar die geld kom in en ek is baie positief daaroor. Ek glo ons het hulle nodig en gaan hulle in die toekoms ook nog baie nodig kry,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.