Gewysigde grondbelastingaanslae – vir die afgelope vyf jaar – sal so gou as moontlik aan die eienaars van kommersiële landbougrond uitgestuur word.

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het in ‘n kennisgewing wat Vrydag in plaaslike koerante gepubliseer is, erken die eerste aanslae het foute bevat.

“Daar is kennis van geneem dat verkeerde koerse vir die boekjare 2017-’18 en 2018-’19 gebruik is,” het me. Ndiyakupi Nghituwamata, die waarnemende uitvoerende direkteur in die direktoraat vir waardasies en boedelbestuur, afdeling gradering en belasting gesê.

“Grondeienaars word dus in kennis gestel dat korrekte aanslae so gou as moontlik uitgestuur sal word,” het sy gesê.

Sy het gesê grondeienaars kan ook die direktoraat nader oor die gewysigde aanslae.

Intussen het die Namibië Landbou-unie (NLU) in hul jongste nuusbrief gesê die kontakpersoon vir grondbelastingaanslae binne die ministerie is die waardeerder-generaal self, mnr. Rudolf !Nanuseb.

“Mnr. !Nanuseb kan by 081 149 4133 of 061 296 5100 geskakel word, of ’n e-pos kan na Rudolf.!Nanuseb@mlr.gov.na of rnanuseb174@gmail.com gestuur word.”

AANPASSING

Die aanvanklike aanslae het nie ’n afwaartse aanpassing van 0,75% na 0,4% vir die laaste vyf maande van 2017-’18 in berekening gebring nie.

Die aanpassing moet gedoen word ingevolge regeringskennisgewing no. 290 van 19 Oktober 2017

Bogenoemde koersverlaging is in die Staatskoerant afgekondig.

Grondbelasting vir die afgelope vyf jaar is teen 31 Oktober vanjaar betaalbaar.

Die NLU het in ’n vorige nuusbrief grondeienaars aangeraai om alle kwitansies vir die betaling van grondbelasting, veilig te bewaar. Hulle moet ook seker maak dat die onverbeterde waarde van hul plaas (unimproved site value, of USV) op die 2007-waardasie gebaseer is.

“Neem asseblief daarvan kennis dat afsonderlike betalings vir elke jaar van die aanslag gedoen moet word.

“Kontantbetalings kan slegs by NamRA se kantore in Windhoek en op Walvisbaai, Keetmanshoop, Otjiwarongo, Oshakati en Rundu gedoen word,” het die NLU gesê.

“Wanneer jy betaling deur middel van ’n kontantoorplasing (EFT) indien, maak seker dat jy ’n bewys van betaling (PoP) uitdruk. Die PoP moet dan na ’n NamRA-kantoor geneem word, saam met die grondbelastingaanslag wat jy ontvang het, om ’n kwitansie te kan kry.

VERWYSINGS

“Wanneer ’n EFT-betaling gedoen word, is dit belangrik om te verseker die verwysing wat gebruik word, is korrek,” het die NLU bygevoeg.

Dit sluit in dat die verwysingsnommer met ’n “1” moet begin as dit ’n EFT-betaling was; die daaropvolgende nommer moet die streekkantoor aandui waar jy vir belasting geregistreer is, gevolg deur die agt syfers van jou belasting-identifikasienommer (TIN).

Die TIN wat in die verwysing gebruik word, moet agt syfers lank wees en grondeienaars moet dus ’n “0” voor hul persoonlike TIN voeg om dit agt syfers lank te maak.

Dan moet dit ook die nommer “53” bevat om te wys watter tipe belasting dit is (grondbelasting, in hierdie geval) en die laaste ses syfers dui die boekjaar aan waarvoor die belasting betaal word.

Die jaartal moet dus aangedui word, asook die nommer “99”, wat aandui dat dit die belasting vir die hele jaar is.

NLU-lede kan vir PW Labuschagne by die NLU-kantoor kontak vir enige hulp.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.