Namibiese veeboere steier onder die hoogste landbou-inflasie in meer as tien jaar, wat sedert die vierde kwartaal van 2020 met 15% toegeneem het.

In hul jongste nuusbrief van die afgelope Vrydag, sê die Namibië Landbou-unie (NLU) die drastiese stygings in insetkoste het die druk op veeproduksie kwaai verskerp.

“Die styging is aangedryf deur ’n massiewe 53,5% jaar-op-jaar-verhoging in brandstofpryse, 21,6% jaar-op-jaar styging in voerkoste asook ’n 9,2% verhoging in onderhoud en verbeterings op vaste bates.

“Kwartaalliks, vanaf die vierde kwartaal van 2021 tot die eerste kwartaal in 2022, het die landbou-inflasiekoers met 7,0% gegroei,” het die NLU verduidelik.

“Die drastiese toename in agri-inflasie het in die vierde kwartaal van 2020 begin en word gedryf deur die koste van voer, vervoer, brandstof asook die waardevermindering van die Namibiese dollar teenoor buitelandse geldeenhede,” sê die NLU.

“Veepryse neig wel opwaarts, maar dit was nie genoeg om die stygings in produksiekoste teë te werk nie.

“Indien die pryse in die eerste kwartaal van 2021 met dié van die eerste kwartaal van 2022 vergelyk word, sien ’n mens dat die gemiddelde beespryse met 10,0% op ’n jaar-tot-jaar basis verbeter het, grootliks as gevolg van ’n beter slagprys wat betaal is.

“Slagpryse in sigself het met 21,7% verbeter,” word verduidelik.

VEEVOER

“Die mark vir veevoer is ook onder druk as gevolg van die hoë pryse van sy grondstowwe, soos geel mielies en sojabone. Gevolglik het dit speenkalfpryse negatief beïnvloed.

“Die beperkte voorraad en hoë vraag na speenkalwers het egter die speenkalfprys in die eerste kwartaal van 2022 effens bo dié van die eerste kwartaal van 2021 gelaat, terwyl die speenkalfprys met ’n marginale 1,5% op jaarbasis gestyg het,” sê die NLU.

Verder word gesê die speenkalfprys, uitgedruk as ’n persentasie van die slagprys, het in die eerste kwartaal van 2022 op 68,2% gestaan.

“(Hierdie prysverhouding) is ietwat swakker as in die eerste kwartaal van 2020, toe dit op 70,8% gestaan het, maar wel bo die langtermyngemiddeld van 65%, wat nader aan markewewig is.”

Sover dit die winsgewendheid van ’n speenkalf- teenoor ’n osproduksiestelsel betref, is markewewig bereik omdat die speenkalfprys, as ’n persensentasie van karkasgewig, tot naby langtermyngemiddeldes gedaal het.

Skaappryse het van die eerste kwartaal van 2021 tot die eerste kwartaal van 2022 met meer as 5,8% gestyg. Die NLU gebruik 2017 as hul basisjaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.