Die Namibië Landbou-unie (NLU) sal namens sy lede ernstig beswaar aanteken teen ’n beplande kragtariefverhoging van bykans 13% deur NamPower, gegewe die herstelfase waarin boerdery hom bevind.

Volgens die NLU is ’n raadplegende vergadering op 11 Maart tussen belanghebbendes gehou waartydens NamPower hul jaarlikse voorlegging vir die aanpassing in grootmaatkragtariewe vir die 2022-’23-boekjaar aan die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) voorgelê het.

Die ECB, as die regulerende liggaam, moet dan hierdie voorstelle oorweeg en ’n tarief teen 30 April goedkeur. Die unie sê op grond van hierdie goedgekeurde grootmaattarief van NamPower moet ander kragverskaffers soos die streekelektrisiteitsverspreiders en plaaslike owerhede dan ook hul aansoeke vir prysaanpassings by die ECB indien vir goedkeuring.

Die NLU sê dat NamPower ’n verhoging van 12,8% vir vanjaar ter tafel gelê het, wat meer as dubbel die huidige inflasiekoers is.

“Rolspelers het nou die geleentheid om deur voorleggings aan die ECB beswaar aan te teken. Gegewe die huidige stand van die ekonomie ná Covid-19 en die herstelfase ná die vorige droogte, sal die NLU namens sy lede ernstig beswaar maak teen ’n buitensporige groot verhoging.”

Die NLU het gesê hulle glo en vertrou dat die ECB die stand van die land se ekonomie en die besware van rolspelers in ag neem en ’n verantwoordelike kragtarief wat vanaf 1 Julie 2022 van krag is, sal goedkeur.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.