Terwyl Savanna Beef Processors (SBP) pas bekendgemaak het dat dit aan beesprodusente ’n derde kans gaan bied om verdere aandele te koop, is ’n koopooreenkoms vir ’n bouperseel ook nou afgehandel.

Mecki Schneider, die voorsitter van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) se taakspan asook van Savanna Beef Processors (SBP) het verlede week in ’n inligtingsbrief aan BVCF-lede en SBP-aandeelhouers gesê verskeie mylpale is oor die afgelope weke behaal.

Dit sluit in dat ’n ooreenkoms vir die koop van 25 ha grond op die plaas Teufelsschlucht naby die hoofstad afgehandel is, onderhewig aan voorwaardes, soos aandeelhouers se goedkeuring. Daarbenewens is daar sekerheid oor diensverskaffing deur NamWater asook NamPower, terwyl ’n omgewingsklaringsertifikaat ook uitgereik is.

AANDELE

Schneider sê SBP sal egter binnekort nog ’n kans aan produsente bied om aandele te koop.

“Daar is hernude belangstelling onder produsente om meer aandele te koop. Tot dusver het produsente N$173,5 miljoen se aandele bekom.

“’n Geleentheid sal gebied word om ’n verdere N$26,5 miljoen se aandele op te koop, met die hoop dat beesprodusente 100% van die N$200 miljoen aandelekapitaal kan besit,” het hy gesê en bygevoeg dat dit SBP se onderhandelingsmag by banke en ander beleggers sal versterk.

Hy het bygevoeg hul sakeplan van 2021 is opgedateer met nuwe finansiële modelle, beter insig in bemarking en die kapitale koste van die tenderproses.

“Ons is opgewonde dat ons op operasionele vlak in ’n baie beter en sterker posisie is, ongeag die verhoogde kapitale koste. Die interne koers van opbrengste het beduidend toegeneem tot op 43,7%.”

Schneider sê ook twee uit drie tenderaars van internasionale abattoir-ontwerpers is gekortlys en versoek om hul ontwerpe aan te pas tot ’n spesifieke kapitale uitleg.

Hy het verduidelik die voorgestelde ontwerpe wat in April ontvang en ontleed is, het dit laat blyk dat die koste vir die bou van ’n abattoir aansienlik verhoog het. Die taakspan het verwag dat dit sou gebeur as gevolg van die hoër koste van materiaal, energie, die wisselkoers asook inflasie.

Die nuut ingediende voorstelle word tans ontleed “om die beste ontwerp te verseker en koste te optimaliseer,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat daar ernstig oorweeg word om die fasiliteit in fases te ontwikkel, wat sal help dat dit in die kortste tyd moontlik operasioneel raak.

BEMARKING

Schneider sê intussen is daar hard beplan aan die etikettering van die produk en aan toegang tot nismarkte vir primêre snitte, terwyl daar selfs met groot, internasionale restaurantkettings binne Namibië onderhandel is.

Hy sê ook SBP onderhandel sedert Februarie vanjaar met Meatco vir ’n bemarkingsinisiatief waar Savanna boere direk sal betaal, in ruil vir sekere vleissnitte vir internasionale bemarking.

Hy sê ten spyte dat betrokke partye ooreengekom het oor verskeie terme en verantwoordelikhede, daar met die minister van finansies en met die ministeriële taakspan met Meatco vergader is en ’n 22 ton-vraghouer gereed staan om ’n eerste besending van sekere vleissnitte na die Europese Unie te verskeep, is daar nog geen uitsluitsel oor die saak nie. Meatco se raad moet nog ’n finale besluit hieroor neem.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.