Hoofredaksie – Slegs ’n dag nadat Menzies Aviation in ’n verklaring die publiek beloof het dat hy “vir ten minste die volgende 12 maande sy toegewyde grondhanteringsdienste” by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) sal lewer, het die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) vroeg Saterdag summier sy dienste beëindig en uiteindelik aan Paragon Investment Holdings oorhandig aan wie die tender byna ’n jaar gelede reeds toegeken is.

“In eenvoudige terme het die hooggeregshof op 9 Junie die uitsetting van Menzies van HKIA goedgekeur. Die uitsetting is in ooreenstemming met die hooggeregshofbevel en die uitspraak verwys na die oppergesag van die reg wat eis dat Menzies se onwettige houvas oor die perseel en wat NAC dwing om van sy dienste gebruik te maak, tot ’n einde gebring moet word,” het die NAC se uitvoerende hoof, Bisey /Uirab, gesê.

Paragon se regsverteenwoordiger, Sisa Namandja, het vroeër gemaan indien Menzies nie die lughawe sou verlaat nie, die maatskappy “alles binne die reg sal doen, maar nie sal huiwer om sy regte te beskerm op enige manier wat hy kan nie”.

Die voortdurende vertragings van oordrag en herhaaldelike hofsake wat volgens Paragon hom reeds miljarde dollars uit die sak gejaag het, duur egter ná die naweek waarin dienste en vlugte by die internasionale lughawe in chaos gedompel is, voort.

In ’n hoërhofuitspraak op 9 Augustus is beslis Menzies en die NAC het wel ’n ooreenkoms in plek, ten spyte van die feit dat hul vorige ooreenkoms reeds op 30 Junie 2022 verstryk het. Volgens die hofbevel moes die NAC, indien hy die kontrak wil beëindig, Menzies 30 dae kennis gee om die lughawe te ontruim.

Menzies beweer die hoërhof se beslissing dat kennis van 30 dae gegee moet word, gemaak is in omstandighede waar die hof nie bewus was van die impak van die huurordonnansie nie.

Volgens Menzies bestaan daar nie ’n nuwe hofbevel deur die NAC dat hy die lughawe op ’n vroeë datum moet ontruim nie.

Saterdag nadat die NAC sy dienste beëindig het en Paragon die pligte kon oorneem, het Menzies hom opnuut tot die hoërhof gewend vir ’n dringende aansoek met die NAC, Paragon, Ethiopian Airlines, die minister van veiligheid en sekuriteit, die Namibiese Burgerlugvaartowerheid (NCAA), die adjunkbalju van Windhoek en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie as respondente. Uitspraak in dié aansoek word vandag verwag.

Die NAC het Saterdag by monde van /Uirab gesê die beëindiging van Menzies se dienste is in lyn met die hooggeregshofuitspraak op 9 Junie dat die maatskappy die hantering van alle grondhanteringsdienste op 30 Junie moet staak en alle sekuriteitstoegangskaarte of enige ander toerusting wat hom toegang tot die lughawe gee, moet oorhandig en die perseel moet verlaat. Sou Menzies weier, moet die adjunkbalju van die hoërhof Menzies en al sy toerusting verwyder.

Volgens hom het Menzies staatgemaak op “onwettige selfhelp” om onwettig op die perseel te bly vir sowat ’n jaar, “ten spyte van die feit dat Paragon tans die reg het in ooreenstemming met ’n tender wat die NAC aan hom toegeken het”.

Paragon se oorname Saterdag het egter nie sonder verskeie haakplekke plaasgevind nie, met internasionale vlugte wat inderhaas terwyl hulle in die lug was, herlei moes word aangesien hulle ’n kontrak met Menzies gehad het.

Eurowings Discover moes vlugte na Johannesburg herlei en ander opskort, met die hoop dat die vlugte vandag weer sal hervat. Passasiers het op sosiale media gesê “ons is op die regte vasteland, maar in die verkeerde stad”, met geen inligting oor wanneer hulle uiteindelik hul bestemming sou bereik nie. Sommige het dit as “totale chaos” en ’n “totale nagmerrie vir Namibiese toerisme en die land” beskryf. Kommer is ook uitgespreek oor pakhuise met vars produkte op die lughawe “wat nou toegesluit staan”.

Volgens ’n diensverskaffer op die lughawe het Paragon se personeel glo Saterdag met ’n “stoplys” opgedaag dat Menzies nie op HKIA toegelaat word nie en al die maatskappy se permitte gekonfiskeer moet word.

Volgens die bron is geen van die diensverskaffers, ingesluit lugrederye en sekuriteit, vooraf oor die NAC se besluit ingelig nie. Dit het beteken diensverskaffers kon nie Menzies se personeel verwyder nie, omdat hulle steeds ’n kontrak met die maatskappy het, terwyl Paragon se kontrak vir die uitplaas van personeel glo nog nie gefinaliseer is nie.

Qatar het gister sy vlugte na Doha hervat, ’n vlug van Ethiopian Airlines kon Saterdag twee ure ná sy geskeduleerde tyd vertrek, terwyl vlugte vir Airlink, South African Airways en FlyNamibia volgens skedule vertrek het.

Airlink het die naweek ook ingespring en ’n span met personeel uit Johannesburg, Port Elizabeth en Kaapstad bykomend tot plaaslike personeel ontplooi om vertragings te verhoed.

Die NAC se voorsitter, Leake Hangala, het op sosiale media Menzies van “arrogansie, die misbruik van ons regstelsel en die vermetelheid om ons soewereiniteit te bevraagteken” beskuldig. Ook die uitvoerende direkteur van inligting en kommunikasietegnologie, Audrin Mathe, het Menzies se optrede as “betreurenswaardig” beskryf.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.