Henriette Lamprecht – Die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) is nie verantwoordelik vir die feit dat koeriers en eienaars van voorraad van duisende Namibiese dollar op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geen toegang daartoe het nie.

Die blaam, sê die NAC se uitvoerende hoof, Bisey /Uirab, moet voor Menzies Aviation se deur geplaas word.

Volgens /Uirab het die NAC se prokureurs ’n versoek deurgestuur aan ’n entiteit wat vragkoeriers verteenwoordig, asook Menzies se regsverteenwoordigers om ’n naam van een van die maatskappy se werknemers te verskaf wat al die relevante vrag by die lughawe aan Paragon sal oorhandig. Dit sou Paragon volgens /Uirab in staat stel om as die gemagtigde maatskappy vir grondhanteringsdiente die nodige aandag daaraan te skenk.

Met ontvangs van die besonderhede van die betrokke Menzies-werknemer sal die NAC dadelik reëlings met die adjunkbalju, die polisie, die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) sowel as Namibia Protection Services (NPS) tref vir die oorhandiging van die goedere aan Paragon.

Volgens /Uirab het nog die entiteit wie se naam hy nie verskaf het nie, nog Menzies se regsverteenwoordigers egter op die NAC se versoek gereageer.

“Ons is daarom nie verantwoordelik vir die huidige situasie met betrekking tot die vrag nie. Die oplossing wat ons gebied het, kan nie geïmplementeer word sonder Menzies se oorhandiging van bogenoemde inligting wat nog nie ontvang is nie,” het hy gesê.

Intussen het die redery Airlink gesê hy is verplig om sy vragbedrywighede by HKIA op te skort ná die verandering in die lughawe se verskaffer van grond- en vraghanteringsdienste.

Hoewel die lugredery gereed is om saam met Paragon as nuwe diensverskaffer te werk, bly die veiligheid en sekuriteit van sy passasiers, personeel en vliegtuie die belangrikste.

“Ons kan net vragdienste herstel wanneer Paragon se lugvaartsekuriteit, insluitend die hantering van gevaarlike goedere, asook ander sertifiserings van vrag, goedkeurings en protokol in plek is,” sê Airlink in ’n verklaring.

Die lugredery beklemtoon sou dit voortgaan om vragdienste op die lughawe sonder bogenoemde te doen, sal die integriteit van sy bedrywighede asook internasionale veiligheid en sekuriteit in die slag bly.

Passasiersdienste na Windhoek gaan egter voort, met die lugredery wat sedert Saterdag ’n span van bykomende personeel uit Suid-Afrika ontplooi het om Paragon met die prosessering van passasiers te help. Hoewel vlugte vertragings ervaar weens ’n tekort aan grondhanteringstoerusting, maak Airlink egter waar hy kan op vir verlore tyd, aldus die verklaring.

South African Airways het intussen gesê die tydelike verbod op vrag van en na HKIA is met onmiddellike effek opgehef.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.