Kobie Coetzee – Die Dorslandgedenkfees is ‘n unieke geleentheid waar die Dorslandtrekkers se reise en nageslag onthou en stories gedeel word. Danie Opperman is op 29 November 1924 in Angola gebore voordat die Afrikaners in 1927 uit die land na die destydse Duitswes-Afrika getrek het en woon nou in Kleinmond, Suid-Afrika. Oom Danie vier vanjaar sy 99ste verjaarsdag en buiten vir bronchitis wat hom in die hospitaal laat beland het, is hy nog op en wakker en elke Sondag in die Gereformeerde Kerk op die dorp waar hy die Psalms uit sy kop saamsing. Tydens die onderhoud kon hy ook maklik datums en plekke uit sy geheue opdiep.

Die Dorslandtrek het in 1875 begin met drie groot- en twee kleiner trekke. Danie se grootouers was in een van die trekke waartydens baie mense aan ontbering en dors gesterf het. Oom Danie was drie en ’n half jaar oud toe sy ouers en grootouers besluit het om uit Humpata terug te trek. Wat hy van daardie tyd onthou, is maar wat hy van sy ouers gehoor het.

Waar die Portugese oorspronklik die Dorslandtrekkers met ope arms in Angola verwelkom en vir hulle gratis plase gegee het, het die houding in die 1920’s verander, vertel hy. Een van die groot griewe van die Afrikaners was dat hul kinders in Portugese skole geplaas moes word. Die oorwegend Gerefomeerde ouers het geglo die kinders sou hulle taal en godsdiens in die Rooms-Katolieke skole verloor en hiervoor het hulle nie kans gesien nie. Hulle het met die Suid-Afrikaanse regering onderhandel, wat hulle toestemming gegee het om oor die grens terug te trek, op voorwaarde dat hulle in Duitswes (nou Namibië) moes bly. Dié land was destyds ’n protektoraat van Suid-Afrika. Hulle sou ook plase kry wat hulle oor ’n tydperk moes terugbetaal.

Die Afrikaners het mos maar altyd die trekkersgees in hulle, sê Oom Danie. Waar hulle in die ryk land van Angola vooruit kon boer en gemaklik kon leef, moes hulle nou net ’n paar besittings pak en die res agterlaat. Hulle het by Swartbooisdrif oor die Kunenerivier teruggetrek en op dié plek word daar nou elke vyf jaar ’n gedenkfees vir die afstammelinge van die Angola-boere gehou. Oom Danie se seun, Callie, is een van die organiseerders van die fees en Oom Danie het in 2013 die gedenkplaat onthul op die monument wat daar opgerig is.

Oom Danie se vrou, Santie, vertel hoe aangrypend dit is om by Swartbooisdrif te kamp.

“Dan loop mens daar in die woesterny rond en wonder hoe frustrerend dit vir Danie se ouers moes wees om vir ses maande in tente met klein kindertjies hier te oorleef terwyl hulle vir hul plase gewag het.”

Maar Afrikaners weet van uithou en harde werk, las Oom Danie by.

Toe sy ouers eers hulle plaas in Gobabis ontvang het, het hulle weer op die been gekom. Goedgesinde bure het vir hulle vragmotors en trekkers geleen tot hulle hul eie kon koop. Op sy ouers se plaas, Halma 411, was ’n groot klipgebou wat sy ouers en grootouers in twee verdeel het vir hulle woonhuise. Elke drie maande is nagmaal gehou, met elke gesin wat ’n paal sou bring en ’n seil om daaroor te span vir beskutting terwyl daar kerk gehou word. Die preekstoel was ’n tafeltjie met ’n laken daaroor en elkeen moes sy eie sitplek kerk toe bring.

“Daar was nie ’n orrel nie, maar die voorsanger, Dewald Swart, het ’n pragtige, suiwer stem gehad.”

Kerk en godsdiens het eerste gekom, sê Oom Danie, gevolg deur opvoeding.

“Een van my mooi herinneringe as kind was as ek soggens sou wakker word en kon lê en luister hoe my ma en pa Psalms sing. Ons skool was eers op ’n oom Ackerman se plaas en ons het die vyf myl daarheen op donkies gery. Maar die oom het met waatlemoene geboer en die skool moes skuif, want die kinders het sy oes verwoes deur gaatjies in die waatlemoene te sny om te kyk of dit ryp is,” lag Oom Danie.

“Die regering het toe ingestem om vir ons ouers die materiaal te gee om ’n skool te bou, maar hulle moes self die bouwerk doen – ook van ’n koshuis. Ek was maar ’n nuuskierige knapie en het oral by die bouery gaan ondersoek instel, want die skool is op ons plaas gebou. Een dag lê ek so onder ’n venster om te hoor wat die grootmense binne praat, toe gooi iemand vir my ’n boek daar uit. Dit was die ‘onderrigbybel’ van daardie tyd. So, sonder onderwyser, het ek leer lees: o – s = os, k – a – t = kat!”

Oom Danie het later onderwys gaan studeer. Eers ’n diploma, toe sy B- en M-grade by Potchefstroom en deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy het die leer geklim na die skoolhoofposisie by verskeie skole, onderwysbeplanner en uiteindelik direkteur van onderwys in Suidwes-Afrika.

Een van sy verskeie staaltjies is van ’n buurman wat met hul perdekar gery het – ’n pa, ma en vier kinders. Elke keer roep een van die kinders van agter af: “Pa!” Dan antwoord hy: “Bly stil, ek en Ma gesels.”

In ’n stadium vra die pa: “Hoe gaan dit met Kleinboet daar agter by julle?”

“Pa, hy het lankal van die wa afgeval!”

“Hoekom het julle my nie gesê nie?”

“Maar Pa ….”

Oom Danie praat ook met groot bewondering van sy ma wat die boerdery aan die gang gehou nadat sy pa aan ’n maagseer gesterf het. Sy het self leer kar bestuur en naweke het sy die 70 kilometer dorp toe gery om melk, botter en eiers te gaan verkoop. “Sy het haar egter min aan verkeersreëls gesteur. Een keer het sy ’n draai so knap gesny dat sy bo-op ’n rosyntjiebos beland het en deur ’n paar mans daar afgestoot moes word.” As sy by ’n draai aangespreek is omdat sy nie die teken gegee het nie, was haar antwoord glo: “Hulle kan mos sien ek draai!”

Dis ook Oom Danie se ma wat hom dít geleer het wat nou nog sy lewensmotto is: Loop jou pad in die lewe só dat jy nie skaam sal wees as jy dalk moet terugloop nie.

Hy hou van die mooi goed in die lewe, sê Oom Danie – kuns, musiek en hy is van kleins af geleer om altyd netjies te wees: broek mooi opgetrek, hare gekam en alles!

(Dié artikel het oorspronklik in die Overstrand Herald verskyn.)

BLOKKIE:

*Vanjaar se Dorslandgedenkfees vind dié naweek van 25 tot 27 Augustus by die Qain Quas-kampeerterrein naby Gobabis plaas.

*Sowat 100 volwassenes waarvan ses bo die ouderdom van 80 is, woon die fees by.

*Van die oorlewendes van die Dorslandtrek sluit in Helena Burger, née Potgieter (96) – Delmas; Martie Kloot, née Kok (96) – Otjiwarongo; Johanna Petronella Rosemund, née Robberts (96) – Swakopmund; Sannie Blaauw, née Harmse (95) – Upington; en Magdalena Elizabeth Honey, née Swart (95) – Otjiwarongo.

*Agt viertrekvoertuie gaan as deel van die fees onder leiding van Faan van der Merwe op die spore van die trek toer wat begin by Rietfontein in die Gobabis-distrik, deur Boesmanland tot in Etosha by die Van der Merwe-graf by die Rietfontein-watergat.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.