Jemimah Ndebele – Die kabinet het daadwerklike stappe gedoen om die uitdagings van die ernstige droogte wat die land in die gesig staar, te takel. Dit sluit in die implementering van ’n omvattende ondersteuningsprogram vir lewende hawe waaraan ’n begroting van N$87,4 miljoen toegeken is.

Die inisiatief, wat op 1 Julie in werking getree het en tot 31 Desember duur, sal hoofsaaklik tot voordeel van die droogtegeteisterde streke van Omaheke, //Kharas en Hardap wees.

Die ondersteuningsprogram behels verskeie maatreëls om boere te help en die uitwerking van die droogte te bestuur. Dit sluit in aansporings vir die bemarking van lewende hawe, subsidies vir die vervoer van vee na en van gebiede waar weiding beskikbaar is, sowel as subsidies vir die huur van weiding.

Na aanleiding van die erns van die situasie het die kabinet ook opdrag aan die ministerie van landbou, water en grondhervorming gegee om die moontlikheid te ondersoek om die ondersteuningsprogram vir lewende hawe uit te brei na ander gebiede wat geraak word. Dit sluit die Kunenestreek, dele van Erongo asook dele van Omusati in.

Met verwysing na die dringende behoefte aan water en voeding vir beide diere en mense in die betrokke streke is die landbouministerie ook opdrag gegee om die gereelde instandhouding en herstel van boorgate en waterpunte ’n prioriteit te maak.

Watertenkwaens moet voorts in Omaheke, //Kharas en Hardap ontplooi word. Die kantoor van die eerste minister moet – in samewerking met die onderskeie streekrade en met finansiering van die Nasionale Noodfonds – voedselhulp aan huishoudings verskaf wat deur die droogte geraak word. Dié verligting duur vir ’n tydperk van nege maande vanaf 1 Julie tot 31 Maart 2024 in //Kharas, Hardap en Omaheke.

Bykomend tot voedselhulp het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste opdrag gekry om die voortgesette verspreiding van kospakkies en watersuiweringstablette in al die streke te verseker.

Dié maatreëls het ten doel om wanvoeding te takel en om toegang tot veilige drinkwater te verbeter. Met betrekking tot die breër maatskaplike impak van die droogte, het die kabinet die uitrol van maatskaplike welsynsprogramme in stede en gemarginaliseerde gemeenskappe in die geraakte streke aangekondig.

Die ministerie van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn sal die implementering van bogenoemde programme in konsultasie met die ministerie van finansies en staatsondernemings bestuur. Die ministerie van geslagsgelykheid het spesifiek opdrag ontvang om die Bakgalagadi-gemeenskappe in die Omahekestreek te besoek om hul geskiktheid vir hulp deur programme vir gemarginaliseerdes te bepaal.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.