Terwyl ryp teen Sondag en Maandag in die Suide, Ooste en sentrale dele van die land verwag word, meen weerkenners dat reënweer opnuut vanaf Sondag in die ||Kharasstreek verwag kan word.

Die Namibiese weerkantoor het gister ’n weerwaak uitgereik waarvolgens koue toestande na verwagting teen Saterdag in die Suide sal posvat. Teen onderskeidelik Sondag en Dinsdag sal ysige koue toestande in die Suide, Ooste en sentrale dele van die land heers.

“Gewas- en veeboere behoort die nodige voorsorgmaatreëls teen die koue te tref,” het die weerkantoor gewaarsku.

Die weerdiens weather.com voorspel dat temperature in die hoofstad Sondag so laag as -5 °C kan daal, met ’n maksimum van 19 °C, terwyl Maandag se minimum temperatuur op -3 °C staan, met ’n maksimum van sowat 13 °C.

Mariental sal Sondag en Maandag temperature van so laag as -4 °C ervaar, met ’n maksimum van onderskeidelik 14 °C en 15 °C. Op Keetmanshoop sal die kwik tot -3 °C op Sondag daal en op Karasburg tot -2 °C.

KOUEFRONT

LandWater het verduidelik die aanvanklike matige weer wat tydens die komende naweek oor veral die Kaapse-berge verwag is, nou plek gemaak het vir voorspellings van erge koueweer, sneeu en selfs storms – spesifiek vir Suid-Afrika.

“Die inkomende kouefrontstelsel word deur kragtige bolug ondersteun. Ysige koue weer wat saam met en ná hierdie stelsel volg, is ’n gegewe.

“Die voetspoor en sterkte van die inkomende kouefront is besig om te groei. Dit beteken ’n meer beduidende impak wanneer dit eindelik ‘deurbreek’ en koue vanaf die diep Suide begin ‘optrek’ in ’n noordwaartse rigting,” het Landwater verduidelik.

SNEEU

Alhoewel geen weerdiens sneeu vir Namibië voorspel nie, bestaan ’n moontlikheid vir sneeu op hoogliggende gebiede in Suid-Afrika.

Die weerdiens Vox Weather sê warm bergwindtoestande op Vrydag aan die westelike dele van die vasteland, sal plek maak vir ’n skerp afname in temperature, met sneeu op onder meer die Cederberge, wat teen Sondag Sutherland sal bereik.

“Daarvandaan kan dit verder versprei na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal tot en met Maandag. Ons verwag teen Maandag ook swaar sneeu in Mpumalanga,” het die weerdiens voorspel.

Dit stem ooreen met weervooruitsigte van windy.com, wat ook erge koue toestande veral vir Sondag in die sentrale suidelike dele van Namibië voorspel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.