Ellanie Smit – Terwyl die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) beweer dat bedrywighede by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) teruggekeer het na normaal ná sommige lugrederye ’n vragverbod ingestel het, het verskeie rederye steeds nie hul vragdienste hervat nie.

Airlink het gister aangekondig dat hy sy vragdienste by die lughawe opgeskort het ná ’n nuwe verskaffer die lughawe se grondhanterings- en vragdienste oorgeneem het.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) het ook vroeër vandeesweek vragdienste tydelik opgeskort. Die NAC het gesê die lughawe gaan sedert 19 Augustus deur ’n oorgangsfase en in die hoogs gereguleerde bedryf van lugvaartkonsultasies, moes gesprekvoering en samewerking tussen verskeie belanghebbendes oor vraghantering onderneem word.

“NAC, as die hoofoperateur van die lughawe, kondig aan dat terwyl die nuwe verskaffer van grondhanteringsdienste Paragon op sy akkreditasie vir Europese spesifieke uitvoervrag (ACC3/RA3) wag, het lugrederye vragbedrywighede hervat.”

Die NAC het gesê akkreditasie vir RA3-goedgekeurde vrag word slegs verskaf nadat ouditeurs werklike bedrywighede kan waarneem en kan dus nie verkry word voor die oorgang in die verskaffer van grondhanteringsdienste nie.

Die NAC het gesê in- en uitvoerbedrywighede deur die lughawe is aktief en direkte uitvoere na die Europese Unie kan eers plaasvind sodra die ACC3/RA3-akkreditasie afgehandel is.

“Hierdie uitvoere kan egter steeds verwerk word deur alternatiewe roetes, soos Johannesburg, Addis Abeba, Luanda of Doha vir die EU-sone.”

Volgens die NAC het Paragon sedert 19 Augustus vrag vir Ethiopian Airlines, SAA, Airlink en TAAG Angola hanteer.

“Ondanks ’n tydelike opskorting deur SAL, het hulle Woensdag met dié diens begin. Konsultasies met Airlink, Eurowings Discover en Qatar Airways is gevorderd in hierdie verband.”

Die NAC het gesê hy waardeer die samewerking van alle belanghebbendes in lughawebestuurbedrywighede en moedig voortgesette gesprekvoering en konsultasies gedurende hierdie oorgangstydperk aan.

Intussen het die Namibië Logistieke Vereniging daarop gewys terwyl vragdienste via Johannesberg voortgaan, staar sy lede nou hoër koste, risiko’s, onsekerheid en versekeringsrisiko’s in die gesig.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.