Savanna Beef Processors Limited (SBPL) het eindelik die groen lig van aandeelhouers gekry om met die konstruksiefase van die voorgestelde abattoir en verwerkingsfasiliteit te begin.

Dit volg nadat Savanna se eerste jaarvergadering op 23 Augustus in die hoofstad gehou is, waartydens breedvoerige terugvoering oor verskeie sake gegee is.

“Dit is ’n groot mylpaal ná al die aktiwiteite en werk wat afgehandel is om die bou van ’n wêreldklas-fasiliteit – wat deur beesprodusente self besit word – ’n werklikheid te maak,” het die voorsitter van SBPL se komitee, Mecki Schneider, gesê.

Vier spesiale resolusies is feitlik eenparig deur aandeelhouers aanvaar. Die grootste hiervan is dat toestemming gegee is die SBPL-direksie aandeelhouers se belegging wat tans op sowat N$181 miljoen staan volgens hul diskresie kan gebruik.

“Daarmee is effektief toestemming gegee om voort te gaan met die konstruksiewerk,” het Schneider in ’n brief aan Savanna se aandeelhouers gesê.

SAKEPLAN

SBPL se jaarverslag vermeld dat die voorkeur-tender van die Nexus-groep/SCIP/Emcon Consulting Engineers ontvang is.

Tydens die jaarvergadering is daar ook breedvoerig uitgebrei oor onder meer die vordering wat gemaak is in terme van die ingenieurswerk, die tenderproses en onderhandelinge met ’n voorgestelde tenderaar.

“Die aanvanklike tender het die finansiële beperkinge van die sakeplan oorskry. Die sakeplan was geskoei op ’n haalbaarheidstudie wat in 2019 uitgevoer is en daar was ’n behoefte om dit op te dateer.

“Die opgedateerde plan het getoon hoewel boukoste gestyg het, het die inkomste wat uit buitelandse valuta verdien kan word, ook gegroei,” luidens die jaarverslag.

Schneider het gesê hiervolgens blyk dit dat Savanna se interne opbrengste op meer as 40% kan staan.

FINANSIES

’n Uitgebreide finansiële plan van hoe die projek gefinansier sal word is ook uitgelê – met die groeiende beleggings en geleende kapitaal wat sterk vertroue in die projek vestig.

“Ons vertrou dat die gedetailleerde ontwerp in die volgende weke voltooi sal kan word, veral nou dat aandeelhouers ingestem het dat die konstruksiefase kan begin en reëlings vir finansiering wat afgehandel kan word,” het Schneider bygevoeg.

Hy sê hierdie ontwikkeling sal help met die stabilisering van die beeswaardeketting en -produkte wat vir internasionale uitvoermarkte bestem is. Die fokus is duidelik, naamlik om ten minste nog 50 000 speenkalwers as slagdiere groot te maak – speenkalwers wat andersins op die hoef na Suid-Afrikaanse voerkrale uitgevoer word.

“Ons wil produsente ook herinner dat net nog N$19 miljoen se aandele beskikbaar is. Hierdie is die laaste kans om slagregte in die nuwe fasiliteit te bekom, met minder as 5 000 wat oorbly,” het Schneider gesê oor die derde beleggingsvenster wat op 7 September sluit.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.