“Jongboere in die land het mentorskap en leiding broodnodig.

“Dit laat elke boer in hierdie land met die enorme verantwoordelikheid om jonger boere onder die vlerk te neem en seker te maak dat ons volhoubaar kan wees.”

Dit was die woorde van Keady Strauss van Mariental, die nuutverkose voorsitter van die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongboerkomitee, tydens die afgelope NLU-kongres in Windhoek.

Terselfdertyd het die NLU families wat saam boer aangemoedig om die Meesterklas in Familieboerdery-geleentheid by te woon wat in November op Keetmanshoop, Tsumeb en Okahandja deur Theo Vorster en sy span aangebied sal word.

“Ek wil oud en jonk nooi om dit by te woon sodat ons die nodige kopskuiwe kan maak om die bal aan die rol te kry en die oorgang te maak van ouer na jonger boere,” het Strauss gesê.

Piet Gouws, die NLU se uittredende president, het gesê die geleentheid vorm deel van kapasiteitsbou onder sy lede en spesifiek vir suksesvolle jongboere. “Ek moedig alle familieboerderye aan om hierdie geleentheid te benut om julself toe te rus om ’n nalatenskap daar te stel en nie vervalle ruïnes nie.

“Dankie aan plaaskinders wat saam drome bou en vergesigte sien van die volgende generasies op geliefde plase, dit verg ook begrip om saam met verouderende generasies nuwe weë te baan,” het hy in sy voorsittersrede gesê.

GROEI

Gouws het gesê die NLU se ledetal het oor die afgelope vyf jaar gegroei en ook “jonger” geraak – met meer jongboere wat by hulle aangesluit het.

“Die toetrede van die jonger generasie tot boerdery sal tot verskeie uitdagings en selfs konfliksituasies lei. Ons benodig vernuwende denke.

“Hierdie is plaaskinders wat teruggekeer het met ’n ander benaderings. Hulle is jongmense uit die korporatiewe wêreld wat die dinamiek moet terugbring na boereverenigings en landbou-unies,” het hy gesê.

Strauss sê die jongboere is met groot afwagting deel van die inisiatief en dat daar groot werk vir hulle voorlê. Hy het gesê die komitee het reeds 400 jongboere in hul verskeie streke geïdentifiseer, waarvan net sowat die helfte reeds aan georganiseerde landbou deelneem.

“Die NLU het meer as 2 000 lede, waarvan die helfte ouer is. Dit laat die unie in die moeilikheid en skep ’n gaping wat deur jongboere gevul sal moet word.”

Hy het bygevoeg dit is kommerwekkend dat daar boereverenigings in die land is waarvan slegs enkele jongboere deel is – wat ’n vakuum laat. Hy het ’n beroep op boereverenigings oraloor die land gedoen om te oorweeg om minstens een jongboer op hul bestuursraad aan te stel.

BEHOEFTE

“Ons as komitee het ’n behoeftebepaling onder jongboere gedoen. Mentorskap, kennis en leiding is broodnodig en daar het elke lid verantwoordelikheid, sodat ons volhoubaar kan wees,” het Strauss gesê.

Die familieboerderyedae saam met Theo Vorster vind op 20 November op Keetmanshoop plaas, 22 November op Tsumeb en 23 November in Okahandja. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pa@nau.com.na.

[Bron –Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.