Terwyl Namibiërs nog sidder oor die tropiese sikloon Freddy se invloed op plaaslike weerpatrone, sê Australiese weerkenners nou daar is ’n 50% kans dat El Niño-toestande later vanjaar kan ontwikkel.

Terselfdertyd sal Freddy na verwagting later vandeesweek uiteindelik sy fut verloor.

Terwyl die sikloon Namibië se reën reeds vir langer as ’n maand kasty, het goeie reënneerslae egter vanaf Sondag oor die noord-sentrale dele van die land voorgekom, volgens die Hidrologiese Dienste van Namibië se daaglikse vloedbulletin van 13 Maart.

Die res van die land is droog, terwyl die hidrologiese diens ook aangedui het dat daar nie veel reën tot 21 Maart vir Namibië verwag word nie.

Terselfdertyd is waarskuwings uitgereik dat gemeenskappe stroomaf van die Laer Oranjerivier asook die oostelike vloedvlaktes langs die Zambezirivier gereed moet wees vir moontlike vloede.

FREDDY

Die tropiese storm Freddy, wat ’n skrikbewind voer terwyl dit massas water in Mosambiek, suidelike Malawi, suidoostelike Zambië en noordoostelike Zimbabwe neerstort, sal na verwagting nog vandeesweek uitwoed.

Meer as 100 sterftes is reeds weens die sikloon aangeteken.

Freddy was die afgelope Maandag ’n laagdrukstelsel nadat dit oor die naweek die Mosambiekse kus vir ’n tweede keer getref het en sterk winde, vloede en swaar reën na die land se Zambeziastreek gebring het.

Verskeie weermodelle verwag dat dit binnekort ’n U-draai, terug na die Mosambiek-kanaal, sal maak. Dog is sy nuwe roete minder gunstig, wat beteken dit sal nie weer kan versterk nie en sal hopelik heeltemal uitwoed.

Freddy het egter alle verwagtinge oortref as die langdurigste tropiese sikloon op rekord, wat gister reeds 38 dae lank woed. Dit is ook een van net vier siklone wat die hele Indiese Oseaan van wes na oos kon deurkruis en boonop ’n U-draai teen die Mosambiekse kus kon maak en na die Mosambiek-kanaal terugbeweeg het.

TOT SIENS, LA NIÑA

Die La Niña-toestande in die tropiese Stille Oseaan het intussen ook tot ’n einde gekom en die Enso-toestande is nou neutraal, met internasionale klimaatmodelle wat voorspel dat dit tydens herfs neutraal sal bly, sê die Australiese Buro vir Meteorologie in hul jongste klimaatvooruitskouing.

Dit volg nadat La Niña-toestande vir drie jaar lank geheers het – wat op sigself ongewoon is.

Daar is egter tekens dat El Niño-toestande later vanjaar kan vorm. Daarom het die Australiese Buro hul jongste klimaatvooruitskouing op ’n El Niño-wag geplaas.

Enso staan vir die El Niño-Suidelike Ossillasieklimaatspatroon en verwys na die interaksie tussen die tropiese Stille Oseaan en die atmosferiese toestande in dié gebied, wat gesamentlik ’n invloed op wêreldwye weer- en klimaatpatrone het.

ONGUNSTIG

LandWater, ’n nieregeringsorganisasie wat satellietbeelde wetenskaplik ontleed en interpreteer, sê egter toestande vir reënneerslae in onder andere Namibië was ongunstig – reeds voor sikloon Freddy sy opwagting gemaak het.

LandWater het verduidelik terwyl La Niña-toestande dikwels tot “groter en breër reëngunstigheid” lei, is daar in Januarie of láát Desember reeds “vreemdhede” binne La Niña opgemerk.

Dienooreenkomstig het Kalifornië, heeltemal anders as wat “veronderstel” was om te gebeur, soveel sneeu en neerslae binne een winter ontvang dat dit tans ontsnap uit ’n gruwelike, langtermyndroogte.

Boonop ervaar die Noordelike Halfrond tans ’n skielike stratosferiese opwarming, wat verder tot die ongewone wendings in die weer bydrae.

“Al het La Niña deur ons somer geheers, is daar die een of ander ontwrigting wat óók na ons verplaas is,” het LandWater verduidelik.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.